As haar kleinseun vroeër die korrekte mediese behandeling gekry het, sou dinge nie geëindig het soos dit het nie, vertel Bettie van der Merwe Bonnet.
Dié inwoner van Velddrif sê wat haar betref, kon die nalatigheid van die Vredenburg Provinsiale-hospitaal die dood van haar vyfjarige kleinseun veroorsaak het.
Bettie het aan Weslander vertel haar kleinseun het vroeg in Oktober gekla oor maagpyn en sy het hom dadelik Vredenburg-hospitaal toe geneem. Met haar aankoms by die hospitaal en met haar kleinseun wat skree van die pyn, het geen mediese personeel hulle egter te hulp gesnel nie. “Dit het ure geneem voordat iemand aandag gegee het aan hom en die gedrag van die personeel was onprofessioneel,” vertel sy.
Wat vir Bettie verstommend was, is dat die dokter wat hom uiteindelik gesien het, glad nie haar kleinseun deeglik ondersoek het nie. “Hy het bloot elektroliete-water gegee en gesê as hy niks opbring daarna nie, kan ek hom huis toe neem.”
Bettie glo egter meer moes gedoen word en kla niemand het enigsins fisiek aan hom geraak om vas te stel wat die moontlike probleem kan wees nie.
Sy is huis toe met die kind, waar hy die dag daarna steeds in pyn was.
“Ons is weer hospitaal toe, en hy het skreeuend van die pyn in die wagkamer gelê sonder aandag.” Uit desperaatheid het Bettie haar raadslid gekontak, wat op sy beurt met die hospitaal in verbinding getree het, waarna ’n dokter die seun uiteindelik ondersoek het en vasgestel het sy blindederm het gebars. Hy is daarna na die Rooikruis-kinderhospitaal geneem vir ’n operasie.
Roche Laws, ’n woordvoerder van die departement van gesondheid in die Weskus, sê hulle is hartseer om te verneem van die negatiewe ervaring wat Bettie en haar kleinseun by Vredenburg- provinsiale hospitaal ervaar het. Laws sê die hospitaal streef daarna om die beste moontlike mediese dienste te lewer en waardeer hierdie geleentheid om na te dink en te verbeter soos nodig. “Ons kan bevestig dat die pasiënt volgens sy diagnose behandel is en ná verdere assessering ontslaan is om tuis te herstel. Toe hy weer na die hospitaal teruggekeer het, het hy tekens van akute, ingewikkelde blindedermontsteking ontwikkel en is hy daarom na die Rooikruis-kinderhospitaal verwys vir gespesialiseerde sorg,” sê Laws.
Sy voeg by dit kan moeilik wees om blindedermontsteking in die vroeë stadium te diagnoseer – “selfs vir ’n ervare dokter”.
“Volgens protokol moet alle kinders wat by Vredenburg-hospitaal gesien word en tekens van moontlike blindedermontsteking toon, na die Rooikruis verwys word vir ’n hoër vlak van sorg. Ons wens die seun alle sterkte toe en ’n spoedige herstel.”
Bettie sê haar kleinseun het egter probleme opgetel ná die operasie, maar voeg by dit gaan nou beter met hom en hy sterk tans aan.
Sy hou egter vol daar is nie dadelik na haar kleinseun omgesien nie.
Sy vrees vir die welstand van ander pasiënte en glo personeel moet te alle tye professioneel optree.
“Alles kon vermy gewees het sou hy in die eerste plek die regte behandeling gekry het.”




