Anja de Nobrega, hoof van verpleegdienste by Vredenburg Provinsiale Hospitaal, saam met die nuwe hospitaalbestuurder, dr. Madeleine van Schalkwyk. Foto: Yaël Malgas


Daar is ’n nuwe gesig aan die stuur van die Vredenburg Provinsiale Hospitaal, maar sy is geen vreemdeling vir die Weskus nie.

Dr. Madeleine van Schalkwyk het op Maandag 1 Mei amptelik die leisels van die provinsiale hospitaal oorgeneem ná jare in die Cederberg as mediese bestuurder.

“Die span is baie vriendelik en ek is met die intrapslag verwelkom. Ek leer nou al die rolspelers ken en dit gaan goed,” vertel sy.

As dokter het Van Schalkwyk eers as algemene praktisyn gewerk en later in pediatrie gespesialiseer. Sy het onder meer in Kanada, Engeland en Kaapstad by Tygerberg-hospitaal gewerk, maar het toe besef sy het ook ’n liefde vir die administratiewe kant van die mediese sektor.

“Plattelandse gesondheidsorg en kindersorg is beslis my passie. Ek glo die staatsdiens kan en moet wonderlike diens aan pasiënte lewer. Wanneer pasiënte hier uitstap, moet hulle nie net ’n goeie uitkoms hê nie, maar moes ook ’n goeie ervaring gehad het. Respek en vriendelikheid kos geen geld nie,” sê sy.

Van Schalkwyk sê gesondheidsorg is nie net die gesondheidsdienste se verantwoordelikheid nie, maar ook elke individu. Sy meen die sleutel tot sukses is vir die gemeenskap om verantwoordelikheid te neem en vir medici om hulle te bemagtig.

Volgens die dokter weet sy dit is ’n uitdaging. “Ons sal baie meer innoverend moet dink. Met die agterstand wat ons steeds ná die pandemie het en met die daaglikse uitdagings van beurtkrag sal ons slim moet dink en werk.”

Hoewel die provinsiale gesondheidsdepartement beurtkrag en brandstof verskaf om klinieke se ligte aan te hou, is diefstal nou ’n nuwe uitdaging, wys Van Schalkwyk uit.

“Dis nie die moeite werd om hande in die lug te gooi nie. Vat ’n ruskans, sit stil en herevalueer die situasie. As bestuurder het ek geleer ek het nie altyd die antwoord nie. Dit is hoekom ’n sterk span nodig is, want iemand dink anders oor ’n saak en vind ’n heel nuwe oplossing.”

Van Schalkwyk, dr. Silvio Morales-Perez se opvolger, sê dit is die uitdaging en die lekker van haar pos.

Deesdae woon sy in Vredenburg, maar Van Schalkwyk sê sy het as kind ’n ruk lank in die Weskus gewoon en haar suster woon in die Bergrivier-gebied.

Benewens haar familie wat haar skuif makliker gemaak het, was die streek se natuurskoon ook ’n trekpleister.

“Ek geniet dit om in die natuur te wees, of dit ’n stap met die honde of ’n hike is, dis hoe ek recharge. Ek geniet dit ook om te lees en fotografie is nog ’n passie. Natuurlik is my gunsteling-tema om landskappe af te neem,” sê sy.

Van Schalkwyk sê met die nuwe uitdaging as bestuurder en haar liefde vir die streek is sy bly om terug in die Weskus te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article