Eenhonderd dae voor die eerste fluitjie van die eerste Wêreldbeker-netbalwedstryd geblaas word, is Dinsdag in Hopefield gevier.
Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, was onder die vele hooggeplaastes wat vandeesweek die opening van die nuwe netbalbane by die Ronnie Louw-sportterrein bygewoon het.
Die bane is deel van die departement se inisiatiewe in aanloop tot die 2023 Netbal-wêreldbeker wat in Julie vir die eerste keer in Afrika gehou sal word.
Patience Shikwambana, voorsitter van die wêreldbeker-raad, was ook teenwoordig.
Marais meen hoewel die Moederstad die amptelike gasheer vir die geleentheid is, is dit belangrik vir die hele provinsie om die gees vir die kompetisie te skep.
Sy het bygevoeg die plaaslike bane is deel van 22 wat voltooi is en die hoop is uiteindelik 48 bane as nalatenskap van die internasionale toernooi.
Guy Redman, hoofdirekteur van die departement, meen sport kan lewens red en met geriewe en sportontwikkeling kan jongmense verbeter.
“Ja, sportontwikkeling kan ons help om die toekomstige sportsterre te identifiseer, maar nie ten koste van alle kinders nie. Die sportsterre is uiteindelik net ’n handjie vol, maar alle kinders wat aan sport deelneem se selfvertroue kan opgebou word, hul sosiale vaardighede kan verbeter word en dit alles weerspieël in die res van hul lewe,” sê Redman.
Die Weskus-netbalfederasie het sy blydskap oor die bane gedeel en plaaslike spelers sowel as Hopefield-skole uitgenooi om gebruik te maak van die geriewe.
“Hierdie is ’n droom wat vandag bewaarheid is. Ons sou graag wou sien elke dorp beskik oor die nodige fasiliteite. Pas hierdie geriewe op sodat ons kan live to leave a legacy,” het Madelein Horn, voorsitter van die federasie, alle vroue en meisies aangespoor.
Die Weskus spog vanjaar met twee spelers en ’n afrigter wat lid van die Wes-Kaapse Southern Stings-span is, ’n eerste vir die Weskus-federasie.
Lizette Christians, voorsitter van die Hopefield-netbalklub, sê netbal is beslis ’n aanwins vir die gemeenskap.
Die nuwe bane is sommer onmiddellik ná afloop van die seremonie uitgetoets toe spelers van Hopefield Primêr ’n netbalsessie saam met lede van die Weskus-netbalfederasie gehad het.




