Vredenburg/Saldanha-krieketklub III het Saterdag gasheer gespeel vir die spelers van Hopefield-krieketklub, onder leiding van kaptein Shaun de Bruyn.
Die Krewe III het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Met goeie boulwerk deur die veterane André Bosman (10 beurte, 3 paaltjies vir 44 lopies) en Wiaan Nel (10 beurte 2 paaltjies vir 30 lopies), kon hulle die Krewe III se kolwers tot 229/7 beperk.
Daar moet ook melding gemaak word van die atletiese veldwerkpogings deur veral Henk Auret, Ters Brink en Christo Esterhuyse.
Krewe III se top-kolwer van die dag was C. Barends met 89 lopies wat 10×4 en ’n ses ingesluit het. Hy is goed ondersteun deur die jong Austin Prins met 41 lopies.
Ná die ruskans het die immergroen Ters Brink en Wiaan Nel stelling voor die penne ingeneem en ’n goeie grondslag gelê vir die res van die Hopefield-kolwers om die teiken af te jaag. Hopefield KK het die oorwinning in die 42ste boulbeurt behaal danksy briljante kolfbeurte deur die twee jong middelorde kolwers.
Marius Viviers, met 75 lopies (11×4 en 1×6), en Rossouw Greeff, met 69 nie uit nie (7×4 en 2×6), Austin Prins, met syfers van 9 beurte 2 paaltjies vir 36 lopies, en A. Nooi, met 5 beurte 2 paaltjies vir 37 lopies, was Krewe III se beste boulers.
Hopefield het die wedstryd met vier paaltjies gewen.

