Ná baie jare sonder jukskei in Hopefield het die sport Saterdag 30 April ’n herlewing ervaar.
Maggie Hyde en haar span gewillige jukskeispelers het die bane herstel en in ’n baie kort tydjie speelbaar gemaak. Hulle het Saterdag ’n uitstekende ope- jukskei-dag op die Hopefield-sportterrein aangebied. Die groep het almal bedank wat die dag moontlik gemaak het insluitend die Saldanhabaai-munisipaliteit, wat gehelp het om die bane behoorlik herstel te kry.
Spelers van Langebaan, Vredenburg, die Kaapstad-polisieklub, die weermagklub asook die tuisdorp het aan die dag deelgeneem. Spelers het van so ver as Citrusdal gereis om deel te neem.
Die jongste speler op die dag was 14 en die oudste 86 jaar oud.
In die A-afdeling het die gedugte span van Kaapstad-polisie gewen en die B-afdeling is deur Langebaan se B-span beklink.
Weskus-jukskei groei baie sterk en die herlewing van jukskei in Hopefield is ’n baie goeie inspuiting vir jukskei, meen die dag se organiseerders.
Belangstellende spelers kan die volgende mense kontak:
Martin Pieterse (082 389 3236) van Vredenburg-jukskeiklub, Langebaan-klub se Jaco Basson (079 167 9646) of Maggie Hyde (082 893 0778) van die Hopefield-jukskeiklub.





