Die nuwe trots van die gemeenskap van Oudekraalfontein in Hopefield is ’n splinternuwe mark wat deur – en vir – die inwoners van Hopefield gestig is.

Die eerste mark het Woensdag 6 Julie plaasgevind. Die Thusong-sentrum, in die hartjie van die dorp, gooi een dag per maand sy deure oop waar Essie Poole almal – oud en jonk, inwoners en besoekers, kopers en verkopers – welkom heet.

Volgens Liesl Schoeman, ’n verteenwoordiger van die mark, is dit die ideale plek om saam met ou vriende te kuier en nuwe vriende te maak. “En terwyl Louis musiek buite op sy kitaar maak, word worsrolletjies, eierrolletjies en pap en wors geëet, met vele om van te kies vir diegene met ’n soettand – van kolwyntjies en sjokolademuffins tot toffie-appels en meer,” vertel sy.

Binne die mark staan rye tafels wat kreun onder varsgebakte brood en skons, heuning-produkte, konfyt, naaldwerkprodukte, plante en baie meer om van te kies en te keur.

“Ons leuse is nie verniet ‘alle produkte met liefde geplant, gepluk, gebottel, gebak en gelewer’ nie,” sê Schoeman trots.

Sy sê die groter doel van hierdie mark is om die gemeenskap te bemagtig, sodat families ’n ekstra inkomste kan genereer.

“Vir ons wat inwoners van Hopefield is, is die mark veel meer as net ’n adres op ’n padkaart in die Weskus – dis ’n plek waar [almal in die gemeenskap] bymekaarkom en hande vat om vir die volgende geslag iets positief na te laat.”

Die datum vir elke maand se mark word op Facebook gedeel.

Die mark begin om 10:00 en duur tot 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article