Die Hopefield-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Maandag (11 November) sy jaarvergadering gehou.
Dit het by die Hopefieldse Thusongsentrum plaasgevind en is deur die publiek asook lede van die polisie en van wetstoepassing bygewoon.
Die doel van die vergadering was ook om die nuwe GPF-bestuur bekend te stel.
In haar laaste verslag as voorsitter van die Hopefield- GPF het Marlene Olivier gesê 2024 was vol uitdagings. Sy beklee nou die rol van die Weskus-distrik se GPF-voorsitter. “As ek terugdink aan my 2020-verkiesingsvoorsittersverslag is sommige probleme opgelos en uitgesorteer en ander bly steeds maar dieselfde.
“Voertuie en personeel bly ons probleem. Te min voertuie en beamptes per skof wat soms baie min is, is ’n groot uitdaging vir doeltreffende dienslewering. Ons as GPF, buurtwag en die nuut gevormde Community in Blue (CIB) het hierdie nood gesien en help gereeld by die polisiekantoor.”
Olivier sê Hopefield het tans slegs een geregistreerde buurtwag in die dorp en die Hartebeesfontein-plaaswag se registrasie is aan die gang en bykans afgehandel.
Olivier sê die GPF kry geen skenkings of maandelikse bydraes nie, maar kry jaarliks geld van die departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, waarvoor hulle aansoek doen. Sy het ook gedeel dat die GPF met die Saldanhabaai-munisipaliteit hande gevat het om kameras op strategiese punte in die dorp op te rig. “Dit is ’n groot inspuiting vir veiligheid in ons dorp. Hierdie kameras word by ons plaaslike polisiekantoor deur die beamptes aan diens gemonitor en is ’n groot hulp in misdaadbekamping.”
In die verslag van kapt. Gotlieb Adams, die bevelvoerder van die Hopefield-polisiekantoor, deel hy dat die dorp ’n daling in inbrake by wonings en sakeondernemings asook diefstal van en uit voertuie ervaar het. Adams het egter klem gelê op die styging in gesinsgeweld. Meer as 20 aansoeke om ’n beskermingsbevel is die vorige kwartaal ingedien. Adams meen ook misdaadinligting bly ’n uitdaging.
“Sonder inligting en die hulp van die gemeenskap is dit vir die polisie moeilik om misdaad te bekamp.” Adams het ook prestasies gedeel, waaronder die opknapping van hul trauma-eenheid met die hulp van Umoya Energy.
Riaan Farao, wat as die nuwe voorsitter sal dien, sê die rol gee hom die geleentheid om die gemeenskap van Hopefield te kan dien en om deel te wees van die ketting tussen die polisie en die hele gemeenskap van Hopefield. “My plan vir die volgende vyf jaar is om nouer saam met hulle te werk om misdaad te bekamp,” sê Farao.
Die nuwe bestuur van die GPF is bekend gemaak. Hulle is Riaan Farao (voorsitter), Trusilla Hendricks (ondervoorsitter), Astrid Erasmus (sekretaris), Nolene Morris (tesourier), Andries Botha (projekkoördineerder), Serena van Alphen (skakelbeampte), en Raylene Domingo en Gert Grobbelaar (addisionele lede).




