Elke land of nasie het maar sy unieke uitdagings. Ek wil my verstout om (so tong in die kies) te sê dat ons mooi land, Suid-Afrika, sommer geseënd is met ’n wa-vrag vol van hierdie uitdagings op verskillende vlakke.
Ons land is ’n demokrasie in sy jong, volwasse fase. Hoe hierdie jong volwassene vandag daar uitsien, laat genoeg aan die verbeelding oor. Die een groot voordeel wat ons demokratiese projek vir die meeste van ons inhou, is dat ons die vryheid van assosiasie ten volle kan geniet. Ons mag vriendskapsbande bou en versterk met wie ons graag wil. Dis lekker om die sigbare tekens daarvan oral in ons mooi land te kan waarneem. Sport het veral die vermoë om ons as Suid-Afrikaners te verenig, en dis altyd ’n fees om dit te aanskou.
Daardie sporadiese genotvolle interaksie is natuurlik ook broodnodig om ons jong demokrasie te help bou en die ideaal van ’n reënboognasie in aksie na te streef. Dis egter weg van hierdie sporadiese interaksie met mekaar dat die eintlike werk begin – by die werksplek, in die politieke arena, in sosiale kringe . . . noem maar op. Dis daar waar ons baiekeer nog die nare monster van rassisme en diskriminasie die kop sien uitsteek. ’n Mens sou verwag dat ons ná byna dertig jaar as ’n demokratiese bestel beter hiermee sou vaar, maar dit blyk nie die geval te wees nie.
Die vorme waarmee hierdie monster sy kop uitsteek, is deesdae baie subtiel van aard. Dit vereis ’n geoefende oog en oor asook die wysheid van Salomo om hierdie monster te identifiseer.
Miljoene Suid-Afrikaners het destyds ná 1994 geglo ons almal sal maar net moet vergewe en vergeet wat in die apartheidsjare gebeur het.
Wel, dis nogal ’n moeilike enetjie daai as jy nog baie vorme van die ou bedeling in ons nuwe bedeling gewaar.
Wat hierdie saak nog meer ingewikkeld maak, is die feit dat ons politieke bestel glad nie daarin slaag om die ideaal van versoening en eenheid in verskeidenheid te bevorder nie. ’n Mens kan dit goed glo as jy die mate van onbeholpenheid bespeur waarmee van ons politieke leiers die uitdagings van ons land die hoof probeer bied, en die res van ons moet net aanskou hoe alles van sleg na slegter verval. Die hoop wat ons gekoester het dat dinge dalkies, net dalkies, in ons guns kan tel en almal van ons die belofte van ’n beter Suid- Afrika kan ervaar, vervaag by die dag.
Die rimpeleffek hiervan is dat die huidige stand van sake nie bevorderlik is vir die uitbou en versterking van verhoudinge onder jou deursnee- Suid-Afrikaners nie, want as die politici nie daarin kan slaag om die land behoorlik te regeer nie, moet die individu maar self inspring en red wat nog te redde is.
Brood-en-botter-sake word dan die geveg van die dag en “survival of the fittest” word die spelplan waarvolgens gespeel word. Kleur word dan weer na die voorgrond gebring, want kyk hoe swak regeer hulle ons land.
Wantroue word geskep en die hoop dat ons ongeag ras of velkleur as ’n span kan saamwerk, vervaag.
Ook in die werksplek word die doelwit van “solank ek net my salaris aan die einde van die maand kan kry” die hoogste prioriteit.
Het ons dalk ná ’94 te vinnig probeer aanbeweeg? Moes ons nie meer gedoen het om mekaar van nader te leer ken nie?
Al wat ons deesdae sien, is die magsvergrype en die omsien na eiebelang ten koste van ander – gewis nie die droom wat wyle Madiba vir ons as ’n nasie gekoester het nie.
En as ons gaan kyk in wie se hande die ekonomiese mag van ons land gesentreer is, bring dit nog meer stof tot nadenke, en daardie mag kom nie van gister af aan nie – daardie einste mag veroorsaak dat die spoke van die verlede hom net in ander gedaantes in die hede manifesteer. Die hartseer deel hiervan is dat die armstes van die armes daaronder ly.
Ek lees so ’n paar weke gelede van ’n bekende prominente bruin skrywer in Suid-Afrika wat haar uitspreek teenoor die subtiele vorme van rassisme wat sy eerstehands by ’n boekefees ervaar het. Die debatte wat daarop gevolg het, was vir my net die weerspieëling van hoe ons Suid-Afrikaanse landskap tans daar uitsien. Die punt is – daardie subtiele vorme van rassisme moet erken word, hetsy dit nou in die werksplek, in die politieke arena of by ’n boekefees is.
Wat my egter hoop gegee het van die debatte wat ná hierdie voorval plaasgevind het, is die feit dat soveel van ons mense bereid is om saam met ander – oor die kleurgrense heen – te help soek na die antwoorde op die uiteenlopende uitdagings waarmee ons as ’n land worstel.
Dit gee my hoop, want ek wil ook deel van daardie antwoord-soek-proses wees.
Volgende jaar is nog ’n opwindende jaar wat vir ons as Suid-Afrikaners voorlê – dit is die aanloop tot ons nasionale verkiesing.
Ek kan net hoop en bid ’n lig sal iewers aan die einde van die tonnel vir ons almal skyn.




