Inentings is ’n integrale manier om troeteldiere, gesinne en gemeenskappe veilig te hou teen die oordrag van dodelike soönotiese siektes soos hondsdolheid.
Dit is die mening van die nasionale dierebeskermingsvereniging (DBV). In ’n poging om diereliefhebbers te help wat nie noodwendig inentings vir hul viervoetige vriende kan bekostig nie, besoek die staatsveearts eersdaags die Saldanhabaai- munisipale gebied.
“Hondsdolheid is ’n gevaarlike en noodlottige siekte van honde, katte, alle warmbloedige diere en mense. Suid-Afrika is ’n verklaarde hondsdolheidsgebied en alle honde en katte moet ingeënt word sodra hulle die ouderdom van drie maande bereik.
“Tydens ’n inentingsveldtog moet alle honde en katte weer ingeënt word – dit sal gratis deur die staatsveeartskantoor se personeel gedoen word,” verduidelik die organiseerders.
Ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984), moet eienaars van honde en katte hul troeteldiere teen hondsdolheid laat inent.
Inwoners kan hul honde en katte gratis op die volgende dae laat inent:
. Maandag, 20 November – St. Helenabaai
Laingville-gemeenskapsaal tussen 11:00-15:00
. Dinsdag, 21 November – St. Helenabaai
Steenberg’s Cove-gemeenskapsaal tussen 09:00-15:00
. Woensdag, 22 November – Vredenburg
Ongegund-saal (Bitumenstraat) tussen 09:30-12:00
Witteklip-saal (Nackerdienstraat) tussen 09:30-12:00
Louwville-saal (Piet-My-Vroustraat) tussen 12:30-15:00
Skilpad-saal (Vredenburg-sportterrein) tussen 12:30-15:00
. Donderdag, 23 November – Paternoster
Paternoster-saal (Mosselbankstraat) tussen 09:00-15:00
Stompneusbaai EJ Malgarte Primêr tussen 12:00-15:00
Vir die veiligheid van troeteldiere sowel as mense moet alle honde aan ’n halsband en leiband wees en katte in of ’n mandjie of lemoensakkie geplaas word.
Bel Michael Chapman by 084 969 0236 of Hendrik Hagen by 082 896 9570/022 433 8910 met enige navrae.





