Ondoeltreffende polisiewerk het blykbaar die afgelope ses maande daartoe gelei dat 283 sake in die Wes-Kaap van die hofrol geskrap is, volgens die Wes-Kaapse departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid se eenheid wat die howe dophou.

Tussen Oktober 2022 en Maart vanjaar toon die tweede- en derdekwartaalverslae van dié departement dat 283 sake wat gedurende hierdie tydperk provinsiaal by howe gemonitor is, weens polisie-ondoeltreffendheid van die rol geskrap is.

In die Weskus is die landdroshowe in Vredenburg, Malmesbury en Vredendal gemonitor en die polisiekantore in Vredendal, Lutzville, Doringbaai, Graafwater, Citrusdal, Lambertsbaai, Malmesbury en Riebeek-Wes betrek.

Vredendal is van die top-drie polisiekantore waar dossiere nie by die hof was nie en Lutzville een van die top-drie polisiekantore met die hoogste aantal onvolledige ondersoeke.

Van die 283 sake hou 206 sake verband met aanranding met die doel om ernstig te beseer, moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van en handel in dwelms en die besit van vuurwapens en ammunisie.

Van die sake is teruggetrek omdat die dossiere nie by die hof was nie (90), omdat die ondersoek onvolledig was (152), omdat die forensiese verslae uitstaande was (27), omdat die getuies nie gedagvaar is om in die hof te verskyn nie (10) en omdat die beskuldigdes nie voor die hof gebring is nie (4).

Altesaam 22 sake van geslagsgeba­seer­de geweld is teruggetrek aangesien die dossiere nie by die hof was nie en 48 geslagsgebaseerdegeweld-sake weens onvolledige onder­soe­ke.

Reagen Allen, die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsvei­ligheid, het in ’n persverklaring gesê hierdie statistieke skets ’n somber prentjie wat hom diep ontstel.

Hy het benadruk dat dit mense is wat klaaglik deur die polisie en die hele strafregstelsel gefaal word.

Hoewel hy simpatie het met speurders wat onder geweldige druk werk en soms met meer as 200 dossiere elk sit, meen hy dit regverdig nie hul mislukking om hul eed en hul grondwetlike mandaat na te kom nie.

“Ons hou nie bloot toesig oor die polisie nie – dit is uiters belangrik dat verslae soos hierdie tot beter dienslewering lei,” het Allen gesê.

Hy het voorts onderneem om lt.genl. Thembisile Patekile, die provinsiale kommis­saris, te betrek, aangesien hy wil weet of die betrokke beamptes aanspreeklik gehou gaan word.

Aanbevelings na aanleiding van die verslag is dat die polisie ’n verbeterings­plan moet ontwikkel om die aantal sake, wat weens hul ondoeltreffendheid van die rol geskrap word, tot die minimum te beperk.

Allen wil ook adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, by die saak te betrek. “Ek is bewus daarvan dat daar ’n standaard bedryfsprosedure tussen speurders en aanklaers is, en daar moet vasgestel word waar dit ineenstort,” het Allen bygevoeg.

Genl.maj. Sizakhele William Dyantyi, die waarnemende kommissaris van die Weskus-polisiedistrik, het by navraag oor die Weskus-howe en -polisiekantore wat genoem word, gesê dit word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article