Die meeste inwoners van Vredenburg wéét … jy gaan lol nie by Frick Naaimasjiene naby die taxi-staanplek se erf nie, want die honde is kwaai.
Al vir die afgelope 40 jaar is dié onderneming op die perseel op die hoek van Plein- en Langstraat in Vredenburg se sakekern níé ’n plek waar skoorsoekers en kansvatters hulle sommer wil bevind nie.
’n Jong inbreker wat verlede Donderdag 27 Julie glo in die einste erf wou gaan “wegkruip”, het ongelukkig terdeë besef waaroor die waarskuwing gaan toe hy verlede Donderdagnag oor die hoek van die hemelhoë heining geklim het. Hy het net ná 18:00 die aand die donkerste hoek, wat grens aan ’n kerk, gekies om die eiendom te betree.
Die Frick-honde, twee Staffordshire-bulterriërs, ’n boerboel en ’n Newfoundland-hond van sowat 100 kg, het die “wegkruiper” ingewag.
Hulle patrolleer snags die hele perseel: die erf waarop die woonhuis staan en die een waarop die onderneming gebou is.
Charlene Frick (58) vertel hulle het gedink die honde maak weer ’n bohaai oor ’n rondloperkat – iets wat ongelukkig al gebeur het met gewoonlik ’n noodlottige uitkoms vir die kat.
Daardie aand het die Fricks besef dat daar iets anders aan die honde se geblaf is, waarop Charlene buite gaan kyk het.
“Ek het besef dis nie ’n kat dié nie,” toe sy ’n skoen onder die Newfoundland sien uitsteek. Dié hond het ’n gewoonte om op haar prooi te gaan sit.
“Kom help, kom help. Die ou gaan nóú doodgebyt geword,” het sy geskree sodat haar man, Pieter Frick (58), ook buite toe kan kom.
Dit was behoorlik ’n petalje om die oortreder van die honde af weg te kry, met Charlene en Pieter wat later noodgedwonge die oortreder in die buitetoilet moes toemaak om te keer dat die honde by hom uitkom.
“Dit was aaklig om dit te sien. Ek het altyd gedink mense is slim genoeg om níé by ons te probeer inbreek nie.”
Pieter moes selfs die deur vasdraai om te keer dat dit oopgaan, want die honde wou opsluit daar in.
Charlene het intussen die polisie gebel, maar is ingelig dat daar nie op daardie oomblik ’n voertuig beskikbaar was om na hul adres te kom nie. Sy benadruk dat die polisie nog altyd baie paraat was en haar baie getrou help. Sy moes nog nooit voorheen lank op hulle wag nie.
“Ek was byna histeries, want niemand kon die deur oopmaak om te kyk of die ou gebyt is, of nie.”
Op die ou einde is die honde met ’n gesukkel in die winkel toegemaak. “Die groot hond het gate in die deur gekrap met sy naels soos hy probeer uitkom het.”
Charlene het toe maar vir Freddie Smook van die Esperia-Akkerdyk-buurtwag gebel om te help. Hy het onmiddellik gekom en die oortreder na die polisiekantoor geneem.
Net hierna het die polisie opgedaag.
Charlene waarsku: “Jy moenie by ’n plek inklim waar jy nie moet wees nie. As ons self in die nag by die huis wil uitgaan, moet ons eers seker maak dat die honde wéét dit is ons, want hulle werk in ’n pack. Hulle is hier om ons te beskerm en veilig te hou; om juis die misdadigers weg te hou.”
Sy het gesê dit was traumaties vir hulle as ’n familie, maar ook verskriklik vir die ou wat oor die heining geklim het. “Ek dink nie hy sal dit weer doen nie.”
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê geen saak word teen die minderjarige tiener ondersoek nie.





