Waarom sloer hofsake so? Waarom doen die polisie niks verder aan die saak nie?

Lesers verwag optrede nadat ’n prominente figuur in ’n dorp vermoor is of as ’n kind vermis geraak het.

Hofsake in Suid-Afrika het egter ’n vaste verloop waarvan nie afgewyk kan word nie.

Inhegtenisnemings

Die polisie doen hul ondersoekwerk en voer inhegtenisnemings uit. Dit is belangrik dat die inhegtenisneming wettig geskied. Indien nie, sal die aanhouding van sulke mense onregmatig wees, met die moontlikheid dat hulle siviele skadevergoeding kan eis.

Wanneer ’n misdaad by die polisie aangemeld word, word ’n polisiedossier geopen wat gewoonlik dokumente soos getuieverklarings en ’n ondersoekdagboek bevat. Indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit om met ’n hofsaak voort te gaan, hou die polisieondersoek nie op nie. Nuwe feite word voortdurend by die dossier gevoeg.

Verloop van ’n strafregsaak

Nadat beskuldigdes in hegtenis geneem is, vind die hofproses volgens ’n vaste stel reëls en prosedures plaas, soos bepaal deur die land se strafproseswette.

Dié stappe sluit die aansoek om borgtog, die verhoor en die vonnis in.

borgtog

In Suid-Afrika het elke beskuldigde die reg op ’n regverdige verhoor, soos wat die strafproseswet en die Handves van Menseregte bepaal, en ’n beskuldigde moet binne 48 uur in ’n landdroshof verskyn.

Tydens die borgtogaansoek kan die landdros die beskuldigde vra om te getuig oor punte waaroor ’n dispuut bestaan of om verdere getuienis voor die hof te plaas sodat die hof tot ’n beslissing kan kom. Inligting soos vorige veroordelings word bekendgemaak en die hof hou volledig rekord van borgtogverrigtinge, wat dan deel van die verhoorrekord vorm.

Indien ’n beskuldigde nie om borgtog aansoek doen nie, kom fynere besonderhede oor die staat se saak gewoonlik nie aan die lig nie. Die polisie mag ook nie hierdie besonderhede aan die publiek bekend maak voordat dit as getuienis voor die hof gedien het of as bewysstukke ingegee is nie.

Stadiums van verhoor

Die strafprosedure kan in drie stadiums verdeel word: die voorverhoor, die verhoor en die naverhoor.

In die voorverhoorstadium word byvoorbeeld bekendgemaak of die staat se saak teen die beskuldigdes afgehandel en forensiese verslae ingedien is. Staatsaanklaers neem gewoonlik hul besluite op grond van wat in die dossier staan en bewyse wat deur die polisie of spesiale ondersoek­agentskappe soos die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad ingesamel is.

Beskuldigdes kry die kans om skuldig of onskuldig te pleit. Nadat hulle gepleit het, mag die saak egter nie meer teruggetrek word nie.

Indien met die verhoor voortgegaan word, kan dit moontlik begin met die staat wat verduidelik waaroor die saak gaan en hoe hulle beoog om die aanklagte te bewys.

Die staat sal dan die getuienis van die staatsgetuies in die volgorde van keuse lei. Die staat is verplig om alle inligting aan die verdediging beskikbaar te stel.

Die verdediging kan elke staatsgetuie kruisondervra nadat hulle in die hof getuig het, sodat die akkuraatheid van die bewyse getoets en feite wat die beskuldigdes se saak kan begunstig, uitgelig kan word.

Ná kruisondervraging kan die aanklaer die getuies herondervra om enige onduidelikheid uit die weg te ruim.

Die verdediging kan kies om sy saak te sluit sonder om die beskuldigdes of enige getuies te roep. Dit beteken dan dat die staat se getuienis bo redelike twyfel aanvaar word.

Die hof moet die bewyse voor die hof toets en seker maak dat dit redelik sal wees om die beskuldigde skuldig te bevind.

Vonnis

Die hoofdoel van vonnisoplegging is vergelding, afskrikking, voorkoming en rehabilitasie. ’n Hof kan, voor die oplegging van vonnis, self getuies roep waar nodig om ’n regverdige beslissing en korrekte vonnis te verseker. Die beskuldigde kan ook die hof voor vonnisoplegging toespreek.


.

Bykomende bronne: Sarisa Swanepoel Prokureurs; prokureur.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article