Francois Toerien se verwerking van die skrywerjoernalis Herman Lategan se blitsverkoper Hoerkind: Die memoires van ’n randeier, het Vrydag 19 Mei by Die Koelkamers-teater in Paternoster die trane laat vloei, net om die volgende oomblik die gehoor te laat skater.
Geon Nel van Vallei van sluiers en Mooiweer en warm-faam se vertolking van Lategan is ’n kragtoer van talent. Hy laat die gehoor se aandag nie ’n oomblik toe om ’n blaaskans te neem nie. Hoerkind is ’n volronde eenmanvertoning oor ’n man wat soveel leed aangedoen is – as kind en as volwassene – maar vandag met trots kan sê dat hy, ten spyte van alles, sy kop omhoog hou. Dié skokkend eerlike verhoogstuk krap jou om, en gaan almal wat dit gesien het, nog lank kos tot nadenke gee.
Hoerkind, met regie deur Margit Meyer-Rödenbeck, het ’n vol teatersaal gelok met baie mense wat Die Koelkamers die eerste keer besoek en ná die tyd gesê het hulle sal gewis gou weer kom.
Die res van die span bestaan uit Jeanne Steenkamp (assistent-regisseur en verhoogbestuurder), Coenraad Rall (klankbaan) en Gerrit Snyman (stelontwerp).. Gaan kyk by www.diekoelkamers.com vir meer inligting oor hul volgende opwindende aanbiedings.





