Hy word ’n hoerkind genoem. Op ses gaan hy kinderhuis toe. Sy stiefpa skiet op hom.
Op 13 beland hy in die kloue van ’n pedofiel. Alkohol- en dwelmafhanklikheid ry hom.
Een aand word hy gyselaar gehou en met ’n mes gesteek. Hy verloor byna sy been in ’n motorongeluk.
Sy foute is volop, maar hy leer soos hy voortbeur. ’n Ware verhaal oor verlies en oorwinning.
Hierdie is die lewe van Herman Lategan, soos vervat in sy treffer-outobiografie, Hoerkind, wat nou as eenmanvertoning met die gelyknamige titel by die Suidoosterfees debuteer.
Herman se lewe is deur soveel op en af dat ’n mens verbysterd wonder hoe so baie dinge met een mens kan gebeur, en dat hy steeds staande bly ten spyte van al die verwerping en verloëning deur mense wat moes vertroos, grootmaak en leiding gee.
Lategan is lief daarvoor om oor die lewe se randeiers te skryf – dalk omdat hy so goed daarmee assosieer.
In die teaterstuk leer ken die gehoor Lategan as klein seuntjie wat verknog is aan sy ma, maar dan maak omstandighede dit vir hom onmoontlik om by haar te bly.
Sy lewenspaadjie het baie afdraaie en heel dikwels rafel dinge uit. Die deurlopende tema bly die verhaal van een mens wat ondanks alles aanhou beweeg – vorentoe, met groot sukses.
Hoerkind gaan jou bybly en omkrap, want dis eerlik. Die teaterstuk word Vrydag 19 Mei om 19:00 by Die Koelkamers aangebied. Kaartjies kos tussen R160 en R320.
Besoek www.diekoelkamers.com om kaartjies te bespreek.




