’n Nuwe memoire wat gedeeltelik in Lutzville en die Weskus afspeel, is pas gepubliseer.

Herman Lategan word wyd as joernalis gerespekteer, en is beide berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In sy memoire Hoerkind, die memoires van ’n randeier [randeier: buitestander] vertel hy sy lewensverhaal uit die hart, sonder om doekies om te draai.

Hy is vroeg reeds ’n hoerkind (onder meer deur die NG kerk) genoem omdat hy in 1964 buite die eg in Kaapstad gebore is.

As seuntjie het hy brandarm grootgeword met ’n skaarste aan kos.

Hy en sy ma het gereeld op witbrood en swart koffie oorleef.

Op ses is hy vir ’n jaar kinderhuis toe. Van jongs af het hy soos ’n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense, wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee.

Sy ma het later met ’n druiweboer van Lutzville getrou. Tydens skoolvakansies, toe hy gaan kuier het, het die boer besope geraak en hulle aangerand. Hy het Herman probeer verkrag, maar sy ma het dit gestop.

Dié boer noem hom aanhoudend ’n “hoerkind” en skiet met ’n geweer op hulle. Vele nagte moes hy en sy ma in die wingerde gaan skuil. Toe sy ’n mastektomie moes ondergaan, het haar man haar na die spaarkamer verban.

Op 13 het Herman in die kloue van ’n geslepe pedofiel, ’n bekende Afrikaanse koerantman, beland.

Pas ná sy 18de verjaarsdag, toe sy molesteerder met hom klaar was, is hy sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai.

In sy tienerjare was hy bevriend met Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J. Toerien en Casper Schmidt. Hy het onder die akteur Babs Laker studeer.

Hulle het as mentors opgetree en sy denke verbreed.

Ná skool het hy diensplig gedoen, maar is oneervol ontslaan en het in 1986 in New York aangekom, waar hy onder andere die kunstenaar Andy Warhol op straat agtervolg. In hierdie groot stad is hy aan ’n kosmopolitiese wêreld blootgestel en het hy ’n samelewing sonder apartheid beleef, waar mense van alle kleure gelukkig saamwoon. Dit het hom nuwe insigte oor Suid-Afrika gegee.

Terug in dié land het hy alleen en verarm op straat beland, maar is deur ’n vriendin se ma gered. Hy het later opgang gemaak as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis, ook Antarktika.

As volwassene het hy ’n stryd met drank en dwelms gevoer en oor ’n kort tydperk in vyf rehabilitasiesentrums beland. Hy het selfs ’n jaar in die Heilsleër gewoon. Omdat hy aan bipolêre gemoedsteurnis ly, was hy met sy gemoedskommelinge vir menige werkgewer die nagmerrie wat hulle die ergste vrees.

Herman is een aand gyselaar gehou en met ’n mes gesteek. Hy het byna sy been ná ’n motorongeluk tydens ’n besoek aan die oudrugbyspeler Mannetjies Roux se plaas verloor.

Hoerkind is ’n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart ’n paar keer sal breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van ’n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.. Herman Lategan is ’n bekroonde joernalis en skrywer van Groenpunt. Oor die jare skryf hy vir meer as 50 tydskrifte, koerante en webblaaie, onder meer Vogue Entertaining + Travel, Time Out, House and Leisure, Cape Style, Mail & Guardian en Vrye Weekblad. Sy Rapport-rubrieke is in twee bundels byeengebring. ’n Aantal gedigte en kortverhale het al verskyn. Hy het ook vir e.tv gewerk en vryskut-insetsels vir etlike radiostasies soos FMR en Cape Talk gelewer.. Hoerkind, die memoires van ’n randeier, word deur Penguin uitgegee. Dit is in die meeste boekwinkels beskikbaar en kan ook as e-boek aanlyn bestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article