Die ding ruk weer hier buite. Dis al weer daai tyd – stemtyd. Die afgelope vyf jaar speel nog soos ’n riller voor ons almal af en hier moet ons al weer gereed maak vir daai kruisiebesigheid.

Dis ’n rapsie meer as ’n maand voor ons nasionale verkiesing en jy kom oral agter dat die skaakspel in alle erns begin het. Onwillekeurig begin die vrae in my kop ronddans. Wie gaan dié keer die hardste geraas maak om daai stemme te wen? Wie gaan hierdie keer oorloop na wie? Wat is hierdie keer op die spel vir die potensiële kieser? Dalk ’n T-hemp, ’n kospakkie of dalk ’n kombers vir die winter?

Nou ja, hoe jy ook al daarna wil kyk, dis verkiesingstyd en ons almal kan die drama rondom hierdie tydperk te wagte wees. Ek het myself al meer as een keer hardop daaraan herinner dat die politieke arena gewis nie vir my ’n moontlike beroepsopsie sal wees nie. Ek het bloot nie die stamina daarvoor nie. My respek vir diesulkes wat wel daai roete inslaan. Jy moet meer as net hare op jou tande hê om daai perd op te saal. En kom ons los eerder heeltemal die gesprek oor hoe daai perd gery word. Dis ’n riller-roman op sy eie. Wat ek wel gewaar, is dat die intensiteit op die politieke speelveld in aanloop tot die nasionale verkiesing in alle erns begin toeneem. Hoe dan anders, want soveel is op die spel. Sit jy maar self daai drie en vier bymekaar.

En namate die spanning begin opbou om uiteindelik te weet wat die volgende vyf jaar vir ons gaan inhou, kan ek nie anders as om opnuut te wonder of die mense wat maar nog altyd aan die agterste speen gesuig het, maar weer aan daardie speen sal suig nie.

As die stof ná die verkiesing gaan lê het, dan wonder ek of dit nie maar net weer die agterspeensuigers is wat weer van voor af gaan kla oor die swak diens, leë beloftes en korrupsie nie. Dié oorbekende storie word weer vertel. Die siklus van voorheen herhaal hom net weer. En iewers swaai iemand die septer en jaag die lakeie rond om die status quo te behou.

Dis geen geheim dat Suid-Afrika die land is met die grootste gaping tussen ryk en arm nie. Ek meen maar, jy hoef nie hard en ver te gaan soek om daar­die pynlike verskille in ons gemeen­skap­pe, dorpe en stede raak te sien nie.

Ons is almal bekend met die historiese konteks en feite van die realiteit wat ons nou nog waarneem. Die skaakmatvraag is hoe ons – en of ons enigsins – die narratief kan verander van dit wat die pynlike realiteit van ons land en provinsie is.

Die rykes word ryker en die armes armer. Is daar enigsins die politieke wil om die lot van hulle wat hul stemme nog ’n keer op die skinkbord sal plaas, gunstig te verander? Dis dalk ’n retoriese vraag, want hoe gemaak as die miljoene stemgeregtigdes reeds in ’n staat van slawerny geplaas is?

Dit gaan nou wel so sleg, maar ten minste kry ek daai toelagie wat ons almal soort van aan die lewe hou. Dis een van jou klassieke redenasies en iewers besef die een wat die skuiwe maak dit al te goed en teer daarop.

Nie so lank gelede nie bevind ek my op Seepunt se promenade. Ek geniet my stap, maar iets vang my oog. Daar is heelwat haweloses wat summier opgejaag en verwilder word.

Ek het al haweloses by vorige kere ook hier raakgesien. In ’n stadium, ná die Covid-19-pandemie, het hordes haweloses in die stadskom ’n skuilplek kom soek. Met my besoek hierdie keer was hulle nie meer daar nie en ek wonder waarheen hulle verskuif is.

Haweloses in Seepunt is dieselfde verskynsel wat oral in ons dorpe die kop uitsteek en is volgens my ’n refleksie van dit wat in ons gemeenskappe plaasvind. Ek wonder hoe beplan word om haweloses in die samelewing te herintegreer, of gaan hulle elke keer net verskuif word – uit die oog van die algemene publiek en die toeris?

Die ander uitdagings wat die armstes van die armes betref, dra hier dieselfde gewig. Of is dit dalk juis die strategie om die armstes van die armes arm te hou sodat die stem by die stembus verseker kan wees?

En as ons al die negatiewe sentiment rondom ons politieke landskap in Suid- Afrika in gedagte hou, kan ek maar net die hoop uitspreek dat die wiel iewers sal draai in die guns van hulle wat maar elke keer aan die kortste end trek – die armstes van die armes – en wil ek vertrou dat meer kritiese stemme sal saamstem en saamstaan om te verklaar genoeg is genoeg.

En daar waar die politieke wil in ’n stad, dorp of gemeenskap bestaan, wil ek diesulkes uitdaag om in die belang en tot voordeel van almal op te tree. Is dit te veel gevra? As ons dit nie kan regkry nie, wie is dan uiteindelik die armes tussen ons?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article