’n Sake-egpaar wat ’n spoghuis in Yzerfontein huur, is deur die Wes-Kaapse hooggeregshof beveel om die perseel te ontruim.

Volgens Piet en Antoinette du Plessis, die eienaars van die huis geleë in Versveldstraat 41, betaal die huurders, Benjamin en Gerda Mouton, al sedert April 2021 nie die huurgeld van R16 000 per maand nie en moes hulle hulself uiteindelik na die Wes-Kaapse hooggeregshof wend.

Volgens die Du Plessis-egpaar se regsverteenwoordiger Joshua Barlow, van Von Lieres, Cooper & Barlow-prokureurs in Kaapstad, het die hooggeregshof op 7 Februarie beslis (saaknommer 4180/2021) die eiendom word onwettig beset.

P.S. van Zyl, waarnemende regter in die hooggeregshof, het die Moutons beveel om teen 28 Maart die perseel te ontruim.

Barlow vertrou sy kliënte sal binnekort die gebruik van die eiendom terugkry, maar hy sê die Moutons kan steeds teen die beslissing appelleer.

Benjamin Mouton het Dinsdag aan Weslander bevestig dat dit wel die geval is en dat dokumente vir die appèl tans opgestel word.

Die Du Plessis-egpaar het beweer dat die Moutons onwettig ’n restaurant vanuit die huis bedryf, maar Benjamin sê dis glad nie die geval nie.

’n Interdik wat in die Wes-Kaap-hooggeregshof verkry is, verbied die huurders om ’n restaurant of spyseniering-sakeonderneming by Versveldstraat 41 te bedryf ingevolge die Swartland-munisipaliteit se munisipale grondgebruikbeplanning-ordonnansie van 2000.

Volgens die interdik is die nodige toestemming nie by die munisipaliteit gekry om ’n restaurant van die perseel af te bedryf nie.

Benjamin ontken dat ’n restaurant van die perseel af bedryf word. In sy skrywe aan Weslander noem hy dat voedselvoorbereiding vir spysenieringsdoeleindes by ’n gehuurde perseel in Yzerfontein plaasvind en dan by eindverbruikers afgelewer word. “Dit was nog nooit die bedoeling om ’n restaurant of spysenieringsonderneming vanaf Versveldstraat 41 te bedryf nie,” skryf hy.

Volgens ’n Swartland Gazette-berig wat op 6 Augustus 2019 op Netwerk24 verskyn het, het die Mouton-egpaar die restaurant, Gerda’s Table, op 25 Julie daardie jaar amptelik met ’n intieme langtafel-geselligheid en wynparing in Gerda se private wynkelder in Versveldstraat 41 in Yzerfontein bekend gestel.

Benjamin sê die openingsaand in 2019 was die enigste keer dat ’n geleentheid in die betrokke huis gehou is. Volgens hom is alle langtafel-etes by ander venues aangebied.

Benewens die uitsettingsbevel van 1 Februarie wat bepaal dat die Yzerfontein-huis ontruim moet word, is die Mouton-egpaar ook al op twee vorige geleenthede deur die Gautengse hooggeregshof in onderskeidelik Pretoria (saaknommer 25893/2015) en Johannesburg (saaknommer A32004/2017) beveel om huureiendomme te ontruim.

Waarnemende regter P.S. van Zyl van die Wes-Kaapse hooggeregshof maak melding hiervan in sy beslissing van 7 Februarie waarin hy ook genoem het hy het die huurders “genoeg tyd gegee om alternatiewe verblyf te verkry, moontlik met voldoende soneringsregte vir die volgehoue bestuur van hul sakeonderneming”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article