Dit is maar ’n erge week vir almal weens die brandstofprys wat weer eens ’n nuwe hoogte ingeskiet het, en daarmee saam die goedkeuring van vanjaar se munisipale begroting. Dit beteken dus elke belastingbetalende huishouding moet weer eens meer betaal vir water, krag, vullisverwydering en dies meer.

Om nie eens te praat van die reeds hemelhoë kospryse nie, wat nou ook weer die stygingstrap weens die brandstofprys sal klim.

Die res van die jaar se vooruitsigte lyk ook nie goed nie. Die landbousektor reken vanjaar se produksiekoste gaan die hoogste nog wees.

Die rentekoers het reeds gestyg en sal straks voor die einde van die jaar weer styg.

Om sake nog verder te vererger, lui ’n artikel in ’n dagblad vandeesweek 1,4 miljoen minder mense het nou werk sedert die aanvang van die pandemie.

Die vooruitsigte vir die res van die jaar lyk volgens ekonome ook nie goed nie.

Die vraag wat die gemeenskap nou byna daagliks vra, is hoe gaan ons oorleef? Dit is sekerlik ’n vraag wat nie beantwoord kan word nie. Dit gaan geweldige ingryping van die regering asook plaaslike regerings verg om hierdie situasie effe vir die verbruiker te verlig.

Koste en belastings kan nie eenvoudig die hoogte in skiet terwyl mense hul werk verloor of al minder geld verdien nie. ’n Mens kan nie help om te wonder wat dié in hoë staatsposte gaan doen as die gans wat die goue eiers lê nek omgedraai word om die volk te voed nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article