Die kuns- en kultuur-prysuitdeling van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DCAS) het Dinsdag 26 September in die Kaap plaasgevind.
Die prysuitdelingseremonie vereer individue en organisasies wat uitsonderlike bydraes op die gebied van kuns, kultuur, erfenis, taal, biblioteke, argiewe, museums, erfenis en geografiese name gelewer het.
Die Wes-Kaapse minister van sport, kuns en kultuur, Anroux Marais, het ook ministeriële pryse aan individue wat ’n nalatenskap op hierdie gebied het, oorhandig.
Die minister se Nalatenskap-pryse verleen erkenning aan mense wat hul doelwitte in die kuns- en kultuursektor oortref en ’n betekenisvolle invloed op hul gemeenskappe, die provinsie, die land en die wêreld gehad het.
Isabella Niehaus, ’n voormalige inwoner van Langebaan en wat intussen na Riebeek-Kasteel verhuis het, het die minister se Nalatenskap-prys ontvang as erkenning vir haar uitstaande bydrae tot die letterkunde, met spesifieke verwysing na haar bydrae as ’n bekroonde skrywer van Suid-Afrikaanse kookkunsboeke.
Vir Niehaus was die prys een van die grootste verrassings in haar hele lewe en ’n ongelooflike eer.
Sy het die aand as fenomenaal asook ’n fantastiese ervaring beskryf.
“Ek het eerlikwaar net die grootste respek en agting vir iemand soos minister Anroux Marais. Sy verrig wondere in ons land.”
Niehaus het ’n onuitwisbare stempel op die Suid-Afrikaanse kooktoneel afgedruk. Haar toekennings sluit onder meer in erkenning as een van die top- vroue-restaurateurs en sy is ’n driemalige ontvanger van die gesogte Top-10-vrouesjefs in die Kaap.
Dit is egter haar literêre bydraes wat haar werklik van ander onderskei het. Haar kookboek, Duinhuis Smake, Geure, het wêreldwye aansien verkry deur die “Beste in die wêreld”-titel by die 2020 Gourmand World Cookbook-toekennings te verower en is ’n bewys van haar vaardigheid om die ryk geure van Suid-Afrikaanse kookkuns ten toon te stel.





