Jac van der SpuyFoto:


In die pas afgelope begroting is die belastingskale vir enkelbedrae wat by aftrede geneem kan word, met 10% opwaarts aangepas.

Die tabel hieronder dui die verhogings aan.

In die geval van pensioen- en uittree-annuïteitsfondse is een derde van jou aftreefonds as ’n enkelbedrag beskikbaar wanneer jy uit die fonds tree. In die geval van voorsorgfondse is tot 100% van die geakkumuleerde bydrae tot 28 Februarie 2021 beskikbaar om as ’n enkelbedrag te neem. (Enkelbedrae beskikbaar uit voorsorgfondsbydraevoordele geakkumuleer vanaf 1 Maart 2021 word soos pensioenfondse hanteer.)

Indien jy ’n enkelbedrag by aftrede wil neem, is die vraag hoe groot die bedrag moet wees, en spesifiek hoeveel meer as die belastingvrye gedeelte? Verskeie faktore sal die antwoord bepaal, waaronder:. Hoeveel beloop jou marginale inkomstebelastingkoers ná aftrede? (Die marginale koers is die koers waarteen addisionele inkomste belas word.). Het jy uitstaande skuld wat vereffen moet word?. Het jy ander kapitaalvoorsienings vir ’n noodfonds of toekomstige batevervanging?

Met inagneming van jou algehele finansiële beplanning, sal jy in alle gevalle die belastingvrye gedeelte neem waaruit ’n belastingvrye inkomste verdien kan word teenoor ’n minimum inkomstebelastingkoers van 18% indien jy jou belastingdrempel oorskry. Jy verbruik dus 18% minder kapitaal om dieselfde netto bedrag te ontvang. Of jy meer moet neem, sal afhang van jou marginale belastingkoers. Indien dit byvoorbeeld 36% is, het dit sin om ten minste die gedeeltes wat teen 18% en 27% belasbaar is, ook te neem.

Die goue reël by aftrede is dat jy van jou skuld ontslae moet raak. Die motivering is dat jy dan gewaarborgde belastingvrye groei gelykstaande met jou leningskoers ontvang. In die geval van beskikbare eie kapitaal is die antwoord in die meeste gevalle eenvoudig – los die skuld af. Of jy egter ’n enkelbedrag, wat teen 36% belas gaan word, moet neem terwyl jou marginale belastingkoers slegs 18% beloop en jou leningskoers prima minus 2% is, is nie so voor die hand liggend nie. In hierdie geval sou dit waarskynlik beter wees om die termyn van die leningsooreenkoms te laat uitloop.

Soos met so baie dinge in die lewe is daar egter nie net een regte antwoord nie. Ek stel voor jy kontak ’n gelisensieerde finansiële beplanner om jou unieke situasie te ontleed en ’n aanbeveling te doen.

Ten slotte net ’n waarskuwing: enkelbedrae wat uit aftreefondse geneem word, word kumulatief belas. Die verhoogde belastingvrye perk impliseer dus nie dat jy noodwendig vir ’n verdere belastingvrye bedrag kwalifiseer nie.

Jac van der Spuy, CFP®

PSG Wealth

E-pos: jac@psg.co.za

Die inligting in hierdie artikel is algemene inligting. Dit is nie finansiële, belasting-, regs- of beleggingsadvies nie en die maatskappye in die PSG Konsult Groep waarborg nie die geskiktheid of potensiële waarde daarvan nie. Aangesien individuele behoeftes en risikoprofiele verskil, stel ons voor dat jy jou gekwalifiseerde finansiële adviseur raadpleeg indien nodig. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 728).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article