St. Helenabaai-inwoners baklei al ’n paar jaar vir die instandhouding van die St. Helenabaai-hawe – tot die punt waar inwoners self moes ingryp om die hawe te verfraai en van binne en buite meer aanskoulik te maak. Inwoners het uit hul eie sak plante begin koop en die moue opgerol om dit te plant, maar die onlangse padwerke op die paaie van St. Helenabaai het egter al hul harde werk tot niet gemaak.
Die St. Helenabaai-inwoner Ursula Peter het dit onder die aandag van Weslander gebring dat al die nuwe plante by die ingang van die hawe deur padwerkers verwyder en vernietig is, en gesê dit maak haar baie ongelukkig.
“Hulle kon ten minste die plante bewaar het sodat dit weer oorgeplant kon word,” sê Peter. Peter meen meer moeite kon gedoen word en dit lyk nou erger as voorheen.
Aletta Kleynhans deel dieselfde sentimente en sê sy het die afgelope paar jaar self ingespring om die hawe skoon te maak.
“Dit is bitter hartseer dat nie na die natuur omgesien word nie. Die plante was duur en ’n mens het hard gewerk, en kyk hoe lyk dit nou weer.” Kleynhans noem ook dat skoonmaakdienste in die hawe nie so paraat is soos dit was nie. Sy bekommer haar oor die toekoms van die hawe.
Volgens Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die departement van infrastruktuur, is ’n omvattende ondersoek ingestel en op geen van die foto’s van die terrein voordat werk begin het, kon hulle enige bewyse vind van plante wat as gevolg van die bouproses beskadig is nie.
“Die bewering dat die kontrakteur plante by die ingang na die St. Helenabaai-hawe verwyder en vernietig het, word nog ondersoek – ons het nog nie die ondersoek afgehandel nie en ons verklaring in die eerste paragraaf is op voorlopige aanduidings gebaseer. Dit kan egter beklemtoon word dat dit in geen stadium die bedoeling van die padwerkers was om enige plante of bome te verwyder wat nie direk in die pad van die posisie van die nuwe pad is nie of nie ’n veiligheidsrisiko vir die reisende publiek inhou nie.”
Bakker voeg by indien die bewering waarna verwys word, egter waar is, sal die kontrakteur met die gegriefde inwoners skakel en die plante vervang.





