Dis heerlike lente!
Hoewel Weskussers nie noodwendig op 1 September lente in die lug gevoel het nie met onweer wat nog oor groot dele van die gebied gehang het, en ook nie te vinnig moet wees om die wintersklere en reënbaadjies weg te pak nie, kan ’n mens tog nie help om die verandering van die seisoene op te let nie. Met die son se strale wat soggens vroeër begin deurbreek, is die voëltjies se getjirp soggens ook meer prominent. Diegene wat in die winter bietjie afgewyk het van hul oefenroetine benut ook die meer gunstige temperature van die afgelope paar dae met stappers en drawwers wat volop op die paaie te sien is, en die gimnasium-“selfies” word ook die een met die ander op Facebook en Instagram gedeel. In die Weskus is hierdie een van die mooiste tye met landerye tussen Malmesbury en Hopefield goudgeel van die kanola en die veldblomme wat oral in die gebied kleur aan die dag bied.
September is ook Toerisme- en Erfenismaand en skyn opnuut die lig op al die wonderlike aktiwiteite wat die pragtige omgewing bied. Kom ons gebruik September om weer dit wat die Weskus ’n besonderse plek maak te herontdek, hetsy met ’n besoek aan plaaslike strande, restaurante, die nasionale parke of staproetes. Hou Weslander dop oor die volgende paar weke vir idees en kom verken saam met ons.




