Die afgebrande deel van die Muisbosskerm by Lambertsbaai.Foto’s: What’s on in Lambertsbaai/Facebook


Die eienaar van die gewilde Muisbosskerm-restaurant buite Lambertsbaai vermoed dat inbrekers moontlik die heining, wat van muisbosse gemaak is, verlede week aan die brand gesteek het terwyl hulle probeer het om by die drankstoor in te breek.

Die skade aan dié gewilde buitelug-restaurant beloop na raming tussen R500 000 en R700 000.

Verbygangers het Vrydagog­gend (7 Julie) omstreeks 01:00 die brand gesien en by die Lambertsbaai-polisie aangemeld. Die restaurant is sowat 4 km buite die dorp geleë.

Ian Turner, wat die restaurant saam met sy broer, Tertius, besit, het aan Weslander gesê dat die inbrekers probeer het om ’n gat deur die drankstoor se muur te maak. Hy vermoed dat hulle kartonne wat op die vullishoop gelê het aan die brand gesteek het, miskien om “lig te maak waar hulle besig was om kwaad te doen”. Die heining van muisbos het hierop vlamgevat.

Daar is aanvanklik gedink dat ’n kortsluiting moontlik die brand veroorsaak het, maar teen dagbreek is die plek in die muur ontdek waar inbrekers probeer deurkom het.

Die Muisbosskerm was die aand voor die brand stampvol met 90 buitelandse rotsklimmers van Amerika, Swede, Noorweë, Europa en Australië, en nog ’n paar besoekers. Teen 23:00 is die personeel en gaste volgens Turner huis toe.

Polisiesirenes het hom vroegoggend op die Malkoppan-gasteplaas regoor die restaurant wakker gemaak. Hy het die een brandblusser wat hy in die huis gehad het, gegryp en gaan kyk wat aangaan.

Met sy aankoms het Turner gesien dat die helfte van die restaurant, hoofsaaklik die kroegarea en ’n redelik groot stuk van die dakstrukture reeds weggebrand het.

“Dit was aaklig om te dink dat ’n plek waar mense soveel goeie herinneringe gemaak het in vlamme gehul is. Om te sien hoe amper veertig jaar se nalatenskap in vlamme opgaan, was verskriklik. Ek het net besef dat as die wind opkom, gaan ons als verloor.”VNa bl. 2

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article