Verwelkom gerus die veldwerkers van die Bergrivier-munisipaliteit se inkomsteverbeteringsprogram in jou huis.
Maak net eers seker die mens wat aan jou deur klop, is wie en wat hy sê hy is en dra ’n amptelike naamplaatjie. Inwoners sal maklik die 11 werkers wat tans in die veld is om inligting vir die program in te win, kan uitken, aangesien pamflette met hul foto’s daarop in die onderskeie Bergrivier-dorpe versprei word (sien die foto’s langsaan).
Volgens die BM se kommunikasieafdeling werk die veldwerkers nie gewone kantoorure nie en dit is nie ongewoon vir hulle om huise laatmiddag of vroegaand te besoek nie.
Die invordering van inligting vir die BM se inkomsteverbeteringsprogram, wat in vennootskap met Ducharme Consulting gedoen word, het reeds in November 2021 begin.
Dit behels die insameling van persoonlike inligting asook inligting oor inwoners se eiendom met betrekking tot water- en elektrisiteit-lesings en die bevestiging daarvan. Hierdie inligting sal gebruik word om dienslewering aan verbruikers te verbeter. Dit sal ook die munisipaliteit se inkomstestrome in hierdie uitdagende finansiële tye ’n broodnodige hupstoot gee.
Volgens Ray van Rooy, die BM se burgemeester, was die onlangse bogemiddelde munisipale tariefstygings vir basiese dienste onvermydelik weens Eskom se uitdagings en die feit dat die Covid-19-pandemie die munisipaliteit se inkomstestroom ’n knou gegee het.
Verbruikers is in 2020 geakkommodeer met laer tariefpryse om te kan oorleef, en daarom word die BM nou genoodsaak om die tariewe bogemiddeld te verhoog om die verlies op te maak sodat dienslewering van hoë gehalte aan die gemeenskap voortgesit kan word.
Die inkomsteverbeteringsprogram is daarom noodsaaklik, en dit is tot die langtermynvoordeel van alle inwoners om hul samewerking aan die BM se veldwerkers te gee.
Matthew Sheldon, ’n woordvoerder van die BM, sê inwoners, word aangemoedig om alle amptelike munisipale kommunikasie-platforms dop te hou vir gereelde geteikende kommunikasie met betrekking tot hierdie projek.
Volgens die BM se kommunikasiekantoor hoef inwoners nie bekommerd te wees oor hul persoonlike inligting as rekeninghouers wat deur die veldwerkers vasgelê word nie, want die inligting word vertroulik gehou en word slegs vir munisipale doeleindes gebruik. Hierdie inligting word nie aan enige derde partye verskaf nie.
Buiten die persoonlike inligting wat bygewerk word, word alle meters en instrumente by huise nagegaan, en moet verskeie toetse op die instrumente gedoen word, en koördinate bepaal word waar meters geïnstalleer is.
Toegang tot hierdie instrumente word kragtens die munisipaliteit se munisipale verordeninge bepaal en BM versoek inwoners vriendelik om die nodige toegang tot meters aan die werkers te gee sodat die korrekte inligting bekom kan word.
Indien enigeen onseker is oor die toelating van veldwerkers op ’n eiendom, bel asseblief Ryno Engelbrecht by Ducharme Consulting by 081 313 3198.





