Sers. Emilio Benjamin word vir sy heldedaad geprys.


’n Vrou was besig om al dieper in die see in te loop.

Iemand het die vrou op Laaiplek se strand gewaar, onraad vermoed en dit dadelik by die Laaiplek-polisie gaan aanmeld.

Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, het die nuus van die vrou in die water die polisiekantoor Maandag omstreeks 10:30 bereik. Sers. Emilio Benjamin, waarnemende speurhoof van die Laaiplek-polisie, het nie op hom laat wag nie en homself vinnig na die strand gehaas waar hy die vrou in die water gesien het.

Hy is agter haar die water in en het uiteindelik daarin geslaag om haar veilig na die strand te bring.

Die vrou het volgens Helfrich aan Benjamin erken dat sy haar eie lewe probeer neem het deur haarself in die see te verdrink aangesien sy skuldig bevind is aan ’n misdryf en nie kans sien vir die vonnisoplegging en moontlike tronkstraf nie.

Die vrou is na haar huis geneem en is mediese behandeling aangebied, maar sy het volgens Benjamin die hulp geweier.

Volgens Helfrich is die vrou wat Maandag haar eie lewe wou neem verlede jaar in hegtenis geneem nadat sy ’n ander vrou aangerand het.

Helfrich het bevestig dat die saak in die Vredenburg-landdroshof afgehandel is, maar sy kon nie bevestig of die vrou wel skuldig bevind is soos sy beweer nie, aange­sien die saakdossier nog by die hof is.

“Sers. Benjamin word geprys vir sy onselfsugtige en onbaatsugtige daad om iemand anders se lewe te red,” het Helfrich gesê
.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article