Vyf mense het sonder om twee keer te dink, in die yskoue water gespring om ’n walvis by St. Helenabaai te red.
Dit was bloot ’n gewone Saterdagmiddag (23 Maart) toe Johan van Eeden, voorsitter van die Weskus-hengelklub, aan ’n hengelkompetisie deelgeneem het toe sy dogter, Franci, ’n walvis op die rotse gewaar het. Dit het alles voor die Alegria-restaurant afgespeel.
Johan vertel dat hulle aanvanklik nie eens geweet het dit is wel ’n walvis nie. Eers na nadere ondersoek kon hy dit bevestig – en daar en dan is besluit iets moet gedoen word.
“Die walvis was tussen die rotse vasgevang en kon glad nie terug nie, want die water was in daardie stadium vlak. Ek en die jong man JP Tredoux het ingespring en begin stoei om die verskriklike groot vis terug in die see te kry. Nog twee manne het ingespring om ons te help en ná ’n gesukkel en spartel het ons uiteindelik die vis veilig terug in dieper water gekry.”
Johan vertel dat die dier baie gebloei het en angstig was – “maar dit was lekker om te sien hoe die walvis weer teruggeswem het in die water. Dit was regtig iets amazing om te beleef.”
Ben-Pierre Gerber en sy ouer broer, Marius, albei van buite die Weskus is die twee manne wat ingespring het om te help. Ben-Pierre vertel die familie het in St. Helenabaai gekuier en besluit om op dié dag by die Alegria-restaurant ’n draai te maak toe hulle die walvis op die rotse sien.
“Ek en my broer het elkeen om en by ses jaar menseredding vir die George-munisipaliteit gedoen, dus het ons twee ervaring in sulke nood-omstandighede,” sê Ben-Pierre.
Al was dié twee manne nie juis voorbereid nie, het hulle, danksy die adrenalien wat ingeskop het, nie geskroom om te help nie.
Koos Kleinsmith, ’n inwoner van Jacobsbaai, was in die restaurant toe hulle die gebeure sien afspeel.
“Ek het eers gedink dis ’n haai, maar toe sien ek die groot lyf en sien dis ’n walvis. Lyk my ’n golf het hom opgelig en op die klippe gegooi,” vertel Koos.
“ ’n Paar ouens wat aan ’n hengelkompetisie deelgeneem het, het verbygekom. Ek het eers gedink dis NSRI se mense of iets. Die volgende oomblik is die ouens klere en al in die water! En wragtig, soos die gety ingekom het, het hulle die golwe gebruik en die walvis bietjie vir bietjie gestoot en die volgende oomblik was hy uit.” Koos sê die walvis het ingeswem diep water toe en omgedraai en seker maar net dankie gesê. “Hulle is werklik helde in my oë.”





