Met die byt van winter steeds in die lug, is ’n beesstertpot die perfekte kuur vir die koue.Foto:


Lekkerste beesstertpot nog (ses porsies)

Jy benodig:

2 kg beesstert

1 groot ui, fyngekap

2 repe selderystingels, fyngesny

2 groot wortels in dobbelsteentjie-grootte gesny

3 knoffelhuisies, fyngekap

1 koppie Old Brown Sherry (dalk meer)

1 koppie rooiwyn

1 blikkie gekapte tamaties met sous

1 e vars tiemieblare

¼ koppie koekmeel

2 t sout

2 t varsgemaalde peper

1 t paprika

’n Skoot Worcestersous

Sout en peper na smaak

4 naeltjies

So maak jy:

Plaas die meel, sout, peper en paprika in ’n groot plastieksak en meng goed saam. Dompel dan die beesstert daarin en skud goed totdat die vleis mooi met die meelmengsel bedek is.

Verhit ’n klein bietjie olie in ’n groot pot. Braai die ui vir ’n paar minute, maar roer deurgaans om te verhoed dat dit bruin braai. As die ui begin sag word, voeg dan die knoffel en beesstert, wat liggies met meel bedek is, by en braai tot effe bruin.

Roer dan die OBS, tamaties, naeltjies en tiemie daarby, voeg ’n goeie skoot Worcestersous en sout en peper na smaak by en roer goed deur.

Draai die hitte laer, plaas die deksel op en laat stadig prut. Roer ná ’n uur weer deur. As die sous min lyk, voeg nog ’n bietjie OBS of rooiwyn by. Laat nou weer prut vir minstens nog ’n uur, maar beesstert kan soms moedswillig wees om sag te kook, dus kan dit tot drie ure lank prut.

Sit voor met kapokaartappels of -blomkool.


Opsioneel maar heerlik:

So 40 minute voordat jy gaan eet – maak ’n groot pan vol water, voeg ’n bietjie sout by en bring tot kookpunt. Sit dan 12 geskilde uitjies daarin en kook tot effe sag.

Gooi dan die oorblywende water af en voeg een groot eetlepel botter en een eetlepel suiker by die uitjies. Laat die botter smelt en meng goed deur.

Laat die suiker sy werk nou doen om te karamelliseer tot mooi bruin, maar moenie droog braai nie – dit moet ’n taai sousie word.

Dan kom een bakkie klein sampioene by, wat jy vir slegs twee tot drie minute roerbraai, en voeg dan dié mengsel by jou beesstertpot.

Kook alles vir nog 15 minute en geniet!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article