“Hier is mense wat omgee en julle wil help, maar julle moet gehelp wil word, anders gaan niks verander nie.”
Dit was die woorde van Charmaine Laubscher, die onderburgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), aan plaaslike hawelose mense by ’n spesiale geleentheid wat Maandag (10 Oktober) in Saldanha gehou is.
Die geleentheid, wat in die Saldanha-veeldoelige sentrum plaasgevind het, is gereël deur Lifeline Charity Projects, ’n nieregeringsorganisasie sonder winsoogmerk, wat hom vir die regte en lewensgehalte van hawelose mense in die Weskus beywer.
Wêrelddag vir Haweloosheid vind jaarliks sedert 2010 op 10 Oktober plaas.
Laubscher het in haar toespraak by die geleentheid aan die eregaste – die hawelose begunstigdes – gesê sy is bevoorreg om met hulle te kan gesels en hulle te motiveer.
Sy het gesê sy het groot simpatie met hul situasie, maar terselfdertyd het sy hulle aangemoedig om ’n besluit te neem om elke goeie geleentheid aan te gryp en bo hul omstandighede uit te styg. Die haweloses het op dié dag elkeen ’n stel skoon klere, ’n maaltyd en die geleentheid om van die veeldoelige sentrum se storte gebruik te maak, ontvang.
Verskeie ander sprekers het nuttige inligting met die haweloses gedeel.
Hennie Stewe, ’n ouderling by AFM-kerk in Louwville, Vredenburg, het ’n boodskap uit die Woord gebring. Hy het verduidelik dat Jesus ’n nederige mens tydens sy aardse bediening was, nie onderskeid tussen ryk en arm mense getref het nie en homself in besonder met randfigure soos hawelose mense vereenselwig.
Stewe het die groep mense wat die geleentheid bygewoon het, aangemoedig om hul lewenspad verder saam met God te stap.
Rowan Lamont, besturende direkteur van Lifeline, het ook die organisasie se nuwe bedryfsbestuurder, Marchall Fortuin, aan die gaste bekend gestel. Fortuin het aan die gaste vertel hoe hy daarin geslaag het om dwelmgebruik te oorkom nadat hy 16 jaar aan tik verslaaf was.
“Vandag is ek vier jaar skoon van dwelms,” het Fortuin trots gesê. Volgens hom is dwelmgebruik ’n groot oorsaak van haweloosheid.
Lamont het ook Lifeline se beplande projekte, wat in die nabye toekoms plaaslike hawelose mense se lewensgehalte sal verbeter, bespreek.
Lamont het almal vir die besondere rol wat hulle in die sukses van die dag gespeel het, bedank.




