Die St. Helenabaai-hawe lyk al hoe beter nadat individue ingespring het om die tuine te verfraai.


Die St. Helenabaai-hawe het ’n omkeerpunt bereik. Dit nadat St. Helenabaai-inwoners hul kommer gelug het oor die haglike omstandighede by die hawe.

In Junie 2022 het ’n St. Helenabaai-inwoner, Aletta Kleynhans, aan Weslander vertel hoe die hawe al hoe meer agteruitgegaan het (“Hawe lyk ‘skokkend’ ”, 23 Junie 2022).

Kleynhans het meegedeel hoe sy daagliks aanskou het hoe rommel gestrooi word en die gesondheidsrisiko’s wat dit ingehou het.

Amper ’n jaar later vertel Kleynhans dat die hawe weer stadig maar seker terugkeer na sy volle glorie. Albi Modise, ’n woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, het erken dat kapasiteit ’n uitdaging in St. Helenabaai en ander vissershawens is.

Staaldromme is deur hawepersoneel op verskeie plekke in die hawe geplaas en ’n skoonmaakspan is ook ingebring.

Ander individue van St. Helenabaai en besighede het ook betrokke geraak in die mooimaak van die hawe. “Alles is net mooi netjies skoon. Wat vir my die meeste uitstaan, is die mooi tuine. Verlede jaar was die tuine nie naastenby so mooi soos dit nou is nie en daar het nuwe tuine bygekom. Dis ’n wonderlike gesig en ’n plesier om in die hawe te sit en rond te loop en na al die verskillende plante te kyk,” vertel Kleynhans.

Sy voeg by dat sy nou gelukkig is oor die toestand van die hawe. “Daar is so baie mense wat ’n hand het aan die hawe om hom nou so mooi te hou. Baie dankie vir elkeen se harde werk.”

Kleynhans wil graag dankie sê aan die departement se skoonmaakspan, Oppikaai Restaurant, Unite Against Litter, Ursula en John Allen, Superior Plant Hire asook elke ander mens wat ’n bydrae gelewer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article