Inwoners is bekommerd oor die slegte toestand van die St Helenabaai hawe. Foto: Noluvu Ludidi


Dit is skokkend om te sien hoe die hawe agteruit begin gaan het.

Só sê die St. Helenabaai-inwoner Aletta Kleynhans.

Kleynhans het omtrent drie jaar gelede naby die St. Helenabaai hawe ingetrek en vertel dit was die mooiste hawe, maar met tyd het die toestand agteruit begin gaan.

Kleynhans, wat ook ’n lid is van Unite Against Litter, het begin sien hoe rommel gestrooi word en hoe die hawe nie in stand gehou word nie.

Kleynhans vertel hoe sy daagliks aanskou hoe mense hul rommel strooi – veral tydens snoektyd. Volgens Kleynhans is dit nie net die vissermanne wat hul rommel agterlaat nie, maar die wat ook die hawe besoek en selfs die wat in die hawe woon. “Vir ’n hawe wat ’n toeriste- aantrekking moet wees, is dit ’n oogseer in die gemeenskap,” vertel sy.

Haar grootste bekommernis is dat die rommel gesondheidsrisiko’s vir mense en die seelewe inhou. Met mense wat ook in die hawe woon en selfs groente en plante plant, vertel Kleynhans kan die vullis wat vir ’n lang tydperk lê gifstowwe veroorsaak wat dan in daardie groente en plante kan intrek en gevaarlik vir hul gesondheid is.

Albi Modise, ’n woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, sê die departement erken dat kapasiteit ’n uitdaging in St. Helenabaai en ander vissershawens is. Vir ’n korttermynoplossing, sê Modise, is staaldromme deur hawepersoneel in verskeie gebiede van die hawe geplaas.

“Vissermanne laat hul lyne en vishoeke agter wat groot gevaar vir die seelewe inhou. Vullis waai in die see en die seediere sien dit dan as kos. Dus kan hulle verstik of dit kan in hul spysverteringstelsel beland wat besering of dood kan veroorsaak,” sê Kleynhans. Sy vertel ook sy is bekommerd wanneer die vis die rommel eet, hulle dan siek word, gevang en dan aan die gemeenskap verkoop word. “So raak mense ook siek.”

Kleynhans lê klem daarop dat sy wel kennis neem dat vissermanne hul brood en botter uit die see verdien, maar sê dit bekommer haar dat dit ook nie volhoubaar is nie weens die gesondheidsrisiko’s as almal nie hul deel doen om rommelstrooi te voorkom nie.

“Wat skoonmaak betref, het die span tussen Maandag 13 en Dinsdag 14 Junie begin om die terrein skoon te maak, maar weens nat weer kon hul nie al die gedeeltes dek nie,” vertel Modise. Hy vertel ook dat die departement meer personeel moet kry om skoonmaakpligte uit te voer, want die permanente hawepersoneel is verantwoorde­lik vir droogdok-aktiwiteite.

Modise voeg verder by dat die departement beplan om 30 werkers van die Uitgebreide Openbare Werke-program vir die St. Helenabaai-hawe in diens te neem. “Al die werkers sal uit die plaaslike gemeenskap gewerf word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article