Marinda Adendorff (65).Foto: Verskaf


Marinda Adendorff (65) se lewe het soveel ander aangeraak. Nie net was haar liefdevolle arms altyd daar vir ’n drukkie nie, maar sy was ook ’n geduldige oor vir vele vriendinne en selfs kennisse in moeilike situasies, soos wat haar familie nou ná haar onverwagse dood verlede Woensdagaand (24 April) uitvind.

Haar man, André Adendorff (65), is verslae. Hoewel Marinda al jare met haar gesondheid gesukkel het – veral ná ’n mislukte maagoperasie jare gelede – het sy bo verwagting goed herstel van ’n operasie op 5 Desember 2023. Hulle het Adelberg Auto in Velddrifweg, Vredenburg, 19 jaar gelede geopen.

Lara du Plessis, Marinda se dogter, vertel haar ma was oortuig dat sy nie dié operasie sou oorleef nie, en het elke dag daarna as ’n geskenk beskou.

André en Marinda was in Maart in ’n motorongeluk by ’n ry-en-stilhou-punt op die St. Helenabaai-pad. ’n Motoris het teen hoë spoed agter in hulle vasgery en hul motor is in die proses opgelig. Hoewel hulle benewens seer nekke as gevolg van die slag “ongedeerd” daarvan afgekom het, het Marinda daarna knaend oor sooibrand gekla.

Sy was baie opgewonde oor haar broer, Jaco Swart, en sy gesin se kuier uit Nieu-Seeland verlede week. Die familie het die Maandag, Dinsdag en Woensdag in die Weskus rondgekuier.

Marinda het egter Woensdag by ’n restaurant in Langebaan begin sleg voel. Sy het gedink sy kry verkoue.

Volgens André was sy reeds in die bed net ná 21:00. Hy het vir haar ’n warmwatersak gebring voordat sy begin hoes en inmekaar gevou het. Haar suster Liesel Swart, ’n opgeleide verpleegkundige, het haar probeer bybring. Sy het vermoedelik ’n bloedklont deur die long gekry.

“Alles was binne sekondes verby,” het André gesê. Marinda het nog laaste geswoeg oor die tiemiehoender wat sy die volgende dag vir haar familie te ete sou aanbied. Sy het dit spesiaal vir haar broer voorberei soos wat haar ma, Bettie Swart, wat verlede jaar in die Paarl oorlede is, dit nog sou gedoen het.

Hoewel André en Marinda eers in Desember 2021 amptelik getroud is, is hulle al 27 jaar saam. “Ons was onafskeidbaar. Deur moeilike paaie, moeilike tye het ons saamgestaan.”

Marinda sal ook onthou word vir haar onbaatsugtige en entoesiastiese geldinsamelings vir liefdadigheids­orga­nisasies soos die kinderkankeror­ganisasie Choc en Huis Hadassa.

Sy laat benewens Lara ook haar seun, Liam Liebenberg, en stiefseuns, Jacques en Philip Adendorff, agter. ’n Roudiens word vandag (Donderdag 2 Mei) om 14:00 in die NG kerk Akkerdyk gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article