Almal verdien om bederf te word en spesiaal te voel en dit is wat drie inwoners en vriende van Piketberg in hul gemeenskap wou bereik.
Denver Adams, Hermiena Hendricks en Jerome Smit het ’n hare- en mooimaak-inisiatief, genaamd die “Januarie-vriende- hareprojek”, begin waarin hulle gefokus het om iets spesiaals vir die vroue in hul gemeenskap te doen.
“Die idee het ontstaan omdat ons drie in Januarie verjaar en met die begin van covid kon ons nie iets spesiaals vir ons mense doen nie,” vertel Hendricks.
Omtrent 55 vroue het op Saterdag 29 Januarie by die Heldervue Estates-gemeenskapsaal opgedaag en vrywilligers uit die gemeenskap het hul hare versorg deur dit te was, te knip, te krul en meer.
Adams vertel dit was wonderlik dat jeugdiges uit die gemeenskap hul tyd kon afstaan om iets goeds vir die bejaardes te doen.
Hendricks voeg by dat van die vroue selfs nog nooit in ’n haarsalon was nie en dit het hulle vreugde verskaf om hierdie geleentheid na hulle toe te bring.
Die drie beplan om weer die inisiatief ’n werklikheid te maak.





