Om ’n ma te wees, is onder gewone omstandighede ingewikkeld. Wanneer ’n vrou skielik sonder ’n broodwinner en maat is, kan dinge lelik skeefloop. Dit hang alles af van die vrou se ingesteldheid, haar grootwordjare en haar uitkyk op die lewe.

Soos in Dolf de Bruyn (39), bestuurder van die Hoedjiesbaai-hotel, se geval, het die enkelma daarin gefaal om haar kind teen die bose te beskerm. Sy het self toegesien dat haar kind uitgelewer word aan monsters wat sy onskuld gesteel het. Sy was nié die naam ma werd nie, al het haar man weggeloop en haar met die kinders gelos.

Só beland ander ma’s oornag in dieselfde bootjie – hetsy dit nou die man se toedoen is, en of moordenaars die pa uit die gesin se lewe wegruk – soos in die geval van Christo Basson (36) van Saldanha.

Só het ’n Vredenburgse enkelma ook nie geweet die man met wie sy in ’n verhouding was, eendag haar twee peuters wreedaardig sou vermoor nie. Derick Kalmeyer (54) is vandeesweek twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die dubbele moord en aanranding.

Enkelma’s moet dubbeld seker maak oor wie hulle in hul kinders se lewe toelaat. Die uiteinde van hul besluite kan lewenslange letsels laat, of – soos in Faith en Conroy Adams se geval – hulle hul lewe kos.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article