Hans steek die Rubicon oor, die eenmantoneelstuk deur Rudie van Rensburg met Charlie Bouguenon, word Sondag 15 Oktober by Weskus Skool in Saldanha opgevoer.
Die opvoering is ten bate van Huis Wittekruin.
Op 90-jarige ouderdom is Hans nog springlewendig. Sy kinders boender hom egter uit hul tuistes in die buiteland en uit sy lekker huis in die Kaap in Huis Madeliefie in. Hans se vindingryke pogings om uit Huis Madeliefie te ontsnap, word deur sy kinders en ’n drakoniese matrone in die wiele gery.
Maar Hans laat hom nie voorskryf nie, en sy rebelsheid het geen keer nie.
Vinnig heers daar groot konsternasie in die tehuis.
Hans se vele, en soms verdagte, nuwe vriende sorg vir groot pret en heelwat moeilikheid – van daggakoekies en ’n boeremafia tot ontkleedansers en protesaksies. Huis Madeliefie word onderstebo gekeer.
Hans se storie is ’n storie van ons tyd. Sy omstandighede is dié van vele ouer Suid-Afrikaners wie se kinders die land verlaat het. Hans se manewales sal oud en jonk laat skaterlag.
Kaartjies is beskikbaar by Huis Wittekruin. Skakel 022 713 2230 en 083 285 2729.





