Wyle JP (Hannes) du Toit.Foto:


Die gemeenskap van Velddrif is in rou gedompel ná die dood van JP du Toit (68) ná ’n dapper stryd teen kanker.

Du Toit – beter bekend as Hannes of sy bynaam, Pype – het ’n groot invloed in die lewe van talle mense gehad en hy laat ’n beduidende leemte.

Hannes het die dokter net voor die uitbreking van Covid besoek en dit is bevestig dat hy kanker het. Op 30 April 2020, met die geboorte van sy kleindogter, was hy vir ’n noodoperasie hospitaal toe om die kanker uit sy kolon te verwyder. Daarna het hy vir sy lewe geveg toe hy ’n bloedklont in sy longe gekry het.

Die herstel was ’n lang proses, maar hy het weer nuwe moed gekry toe hy sy dogter, Nadia Nel, begin help het met die opening van en opknappings by die bekende Knor Varkie teen die rivier.

Hannes was vir twee jaar in remissie terwyl hy steeds gehelp het met die werk by Knor Varkie en ook op sy vriend Gielie Visser se plaas, Volstruisvlei.

Hy het egter in Oktober 2023 weer simptome begin ervaar en is dadelik weer dokter toe. Die skokkende nuus was die diagnose van fase-4-kanker, “maar hy was vol moed en het ingestem om te gaan vir behandeling”. Ná vier chemoterapie-behandelings het die gesin besluit om ’n skandering te laat doen, wat onthul het dat die kanker aggressief versprei het, en alle behandeling is onmiddellik gestaak.

Hannes se gesin het inisiatief geneem deur sy laaste wense vir hom moontlik te maak. Hy het in Februarie ’n week in Struisbaai gaan vakansie hou en sy geliefdes is ook die kans gegun om hom te vereer vir die man wat hy vir baie was.

Hy het tot die bitter einde geveg deur die versorging van sy vrou, Helena, en ’n vriendin, Antoinette Laubsher. Hannes het egter sy stryd verloor en Maandag 29 April sy laaste asem in sy woning uitgeblaas met sy kinders en vrou aan sy sy.

Hannes word oorleef deur sy vrou, vier dogters, twee skoonseuns en vier kleinkinders.

Die familie is dankbaar vir die bystand, omgee en liefde wat hulle gedurende hierdie tyd ontvang. Hannes se wens was dat ’n feesviering moet plaasvind op die plek waar hy die laaste paar jaar gekamp en gewerk het– Knor Varkie naby Velddrif. Die verrigtinge sal Saterdag 11 Mei om 11:00 begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article