Die Club Mykonos-halfmarathon die afgelope naweek het ’n groot aantal inskrywings gelok.
Die nagenoeg 1 000 inskrywings het jonk en oud gelok om die kilometers vir Saterdag (8 Oktober) se wedloop aan te durf.
Die deelnemers kon die 5 km-, 10 km- of 21,1 km-wedloop aandurf.
Volgens Maralize Lotz, Club Mykonos se sosialemediakoördineerder, was deelnemers slaggereed vir die dag en almal het die geleentheid besonder geniet. “Die atlete was opgewonde om hier te wees en sê hulle gaan gewis volgende jaar terug wees. Almal was beïndruk met hoe goed die wedloop aangebied is,” het Lotz gesê.
Bossie Boshoff, organiseerder van die wedloop, het gesê atlete van reg oor die provinsie het na Langebaan gereis om deel te neem.
“Ons het vanjaar ’n rekordgetal inskrywings in al drie die wedlope ontvang, met meer as 1 000 atlete wat aan die byeenkoms deelgeneem het.
“Benewens die pryse vir alle kategoriewenners was verskeie groot pryse in gelukstrekkings op die spel. Die hoofprys was ’n naweek vir vier by die Club Mykonos-oord,” het hy gesê.
Die groot wenners op die dag was:. 21,1 km; mans: Lukhanyo Nobakada, Khayelitsha-atletiekklub (1:09:42). 21,1 km; vroue: Zintle Xiniwe, Boxer-atletiekklub (1:23:45). 10 km; mans: Lorenzo Pieters, Langebaan-atletiekklub (33:00). 10 km; vroue: Nocwaka Mthetho, Athletics Academy (42:08). 5 km; mans: Divano Fallet, Langebaan-atletiekklub (16:00). 5 km; vroue: Ashali Pholman, Langebaan-atletiekklub (21:00).





