Die onlangse moord en poging tot moord op twee tienerseuns van Langebaan het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, veral omdat dit ’n rare verskynsel in dié Weskus-dorp is.

Tog is geweld onder jongmense en boeliegedrag tussen klasmaats dikwels aan die orde van die dag. Maar waar begin dit en wie moet verantwoordelik gehou word vir minderja­riges se gedrag en optrede? Ja, ouers is veron­derstel om die grondslag te lê vir dissipline en hul kinders te leer tussen reg en verkeerd, en al te dikwels wil ouers die taak voor onderwysers se deur gooi wanneer hul kinders met skool begin. Dit is tog effe onrealisties om net die blaam op ouers te pak wanneer kinders by verkeerde dinge betrokke raak of uitrafel. Daar is honder­de ouers daarbuite wat hulle afsloof om vir hul kinders die beste lewe moontlik te gee, wat al die regte waardes in hulle probeer kweek, maar steeds nagte wakker lê en wonder waar hulle ’n fout in hul kinders se opvoeding begaan het.

Ongelukkig word kinders vandag aan soveel meer blootgestel, het hulle toegang tot enige inligting denkbaar en word hulle dikwels baie vroeg met die “rowwe kant” van die lewe gekonfronteer teenoor kinders 10 of 20 jaar gelede. Die tyd van kinders in watte toedraai bestaan ongelukkig nie meer nie, en daarmee saam gaan respek ook verlore. Selfs sogenaamde strokiesprent-programme wat op kindervriendelike kanale op televisie uitgesaai word, laat soms die hare rys en die beginsel van my-kind-is-jou-kind en uitkyk vir mekaar geld selde meer. So, waar laat dit ouers as hulle kinders in die oggend by die deur uitstap?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article