Die Boland-Grootuitdaagbeker-rugbyreeks word die naweek hervat nadat die Boland Unie wedstryde weens gure weersomstandighede uitgestel het.

Volgens ’n brief van die Unie word wedstryde wat verlede naweek moes plaasvind, na Saterdag 31 Augustus uitgestel. Wedstryde wat reeds geskeduleer is vir dié datum sal na Saterdag 6 September verskuif word.

Met die seisoen wat einde se kant toe staan en slegs ses wedstryde oor is, is geen span op die oomblik van ’n plek in die uitspele verseker nie.

Saldanha, die voormalige Boland-kampioen, is met ’n enkele punt die voorloper, met Vredenburg wat dan volg, met ’n wedstryd minder gespeel.

Saldanha onthaal die naweek ’n omgekrapte Young Hearts. Die troepe van die Grafkelder wat twee wedstryde minder as die voorloper gespeel het, is tans in die sewende plek en met ’n oorwinning kan hulle ’n plek of twee opskuif en ook so hul wiskundige kans lewendig hou.

Saldanha sal egter wil voortbou op sy goeie vorm van die afgelope paar naweke en sodoende sy voorsprong vergroot.

Die grote die naweek is egter die wedstryd tussen Vredenburg en St. Helenabaai op die Burg Boys se tuisveld. Vredenburg sal op sy allerbeste moet wees teen die Agterbaaiers, wat ook sy oog op ’n plek in die uitspele het.

St. Helenabaai, wat twee wedstryde minder as die voorloper gespeel het, kan met ’n oorwinning die vierde plek inneem, indien Hopefield in Piketberg vasval.

Steenberg Cove kan ook op sy tuisveld die sesde plek verseker met ’n oorwinning oor die voorlaaste Langebaan. Die Cove sal ook sy wiskundige kanse wil lewendig hou indien hy volpunte kan behaal.

Velddrif, wat tans in die sewende plek is, moet die derde geplaaste Paternoster op dié se tuisveld probeer tem. Velddrif kan ook sy kanse met ’n oorwinning lewendig hou.

Mamre sal die naweek nog rus voordat dié span Vredenburg in sy volgende wedstryd pak.

Die naweek se wedstryde:

Saldanha t. Young Hearts; Cove t. Langebaan; Vredenburg t. St. Helenabaai; Paternoster t. Velddrif en Piketberg t. Hopefield.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article