Die plaaslike polisie het Donderdagaand (16 Februarie) op ‘n stoor in Schoonspruitweg in die nywerheidsgebied van Malmesbury toegeslaan waar ‘n arsenaal vuurwapens van verskillende kalibers asook ammunisie gevind is.
Tot dusver kon Gazette vasstel dat ‘n verdagte (61), glo van Duitse afkoms, intussen op ‘n kleinhoewe in die Tierfontein-omgewing in hegtenis geneem is in verband met die wapenvonds. Hy het glo die stoor gehuur. Volgens huidige inligting is die polisie steeds besig om die vuurwapens en ammunisie te tel.
Bheki Cele, minister van polisie het vanmiddag (Vrydag) vlugtig die toneel besoek en sou glo die media toespreek maar het toe nie.
*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Die berig sal opgedateer word sodra meer feite beskikbaar is.





