Groot ontwikkelings en planne is volgens die Saldanhabaai- en Bergrivier- munisipale rade in werking vir die Weskus.
In hul mees onlangse raadsvergadering het die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, André Truter, verduidelik die munisipaliteit is besig met ’n tender vir onafhanklike kragverskaffers. Die tender is nou onder die oë van die munisipaliteit se regsafdeling.
Die munisipaliteit is op soek na kragverskaffers wat elektrisiteit kan opwek wat die munisipaliteit op sy beurt kan aanskaf. Die suksesvolle ontwikkelaar moet sy produksie na meer as 100 MW kan vergroot.
Phelan Green Energy se planne om ’n ontwikkeling van R47 miljard na Freeport Saldanha se groenenjin te bring, is ook genoem. Met dié belegging beplan die Ierse maatskappy om ’n ammonia-aanleg te skep. Phelan Green Energy en hul Suid-Afrikaanse filiaal Solar Capital hoop om 2 500 werksgeleenthede met die konstruksie van die aanleg te skep.
In die raadsaal van die Bergrivier-munisipaliteit het die raad, geklee in hul Springbok-drag, verskeie kwessies bespreek. Die raad het goedkeuring gegee vir die onderverhuring van die bekende Vishuis in Bokkomlaan, Velddrif. Volgens die huidige kontrak met die huurders, wat in 2025 verstryk, mag dié gebou onderverhuur word.
’n Geheime item is deur die speaker voorgelê. Die raadslid Randall Swarts het ’n verpligte verklaring gemaak van ’n ondersoek na ’n raadslid wat moontlik die gedragskode oortree het. By navraag het Swarts verduidelik die details word slegs in komitee bespreek.


