’n “Onskuldige” kielie hier of ’n “ek gaan jou vang”-speletjie daar kan dalk regtig onskuldig wees, maar vir pedofiele en kinderverkragters is dit deel van die grooming-proses in aanloop tot die seksuele mishandeling van ’n kind.

Ouers, onderwysers en toesighouers moet uitkyk vir hierdie gedrag omdat alle kinders jonger as agtien jaar slagoffers kan word.

Volgens speursers. Helendine May (48) en speurkonst. Refilwe (Fifi) Sekhabe (32) van die Vredenburgse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, is kinders wat kwesbaar, geïsoleer of gestremd is, meer geneig om ’n slagoffer te word.

Waarskuwingstekens dat ’n kind dalk “voorberei” word vir ongewenste seksuele omgang met ’n volwassene, is gewoonlik eers ná die tyd duidelik vir betrokkenes by die kind, wanneer teruggekyk word na die tydperk vóór die verkragting.

May en Sekhabe werk al onderskeidelik vier en drie jaar by die eenheid en is dit eens dat pedofiele bedrieglik en manipulerend is in die manier waarop hulle te werk gaan. “Niemand kan vir grooming in hegtenis geneem word nie, want dit is die volwassene se woord teenoor dié van die kind. Niemand kom gee ook ooit iemand aan vir grooming nie, want die meeste mense weet nie eens wat dit is nie,” sê May.

Wat is grooming?

Grooming is die doelgerigte proses waarmee pedofiele begin sodra hulle op ’n potensiële slagoffer besluit het, en kan van ’n paar dae tot langer as ’n jaar duur. “Dit gebeur nie lukraak nie,” het Sekhabe gesê.

Oortreders begin met grooming – nie net om te verseker dat die slagoffer stilbly nie, maar ook om hul ouers, enkelouer of versorgers ’n rat voor die oë te draai. Hulle maak seker hulle kry geleenthede waar hulle alleen saam met die kind kan wees en die kind nie weerstand kan bied nie. “Oortreders speel die long game.”

Hulle is volgens die speurders geduldig en werk hard daaraan om almal betrokke se vertroue te wen, wat die kans om uitgevang te word, verminder.

Fisieke grooming

Die kind word gewoond gemaak daaraan om aangeraak te word met ’n klappie op die rug of arm, wat dan vorder na omhelsing, kielie en stoeispeletjies. Met verloop van tyd word die kind gekondisioneer om nog meer vlakke van fisieke kontak te aanvaar.

Stiefpa’s is lief om hierdie pad te loop en die kind voel niks is verkeerd nie, want hy of sy interpreteer die aanraking soos een van ’n “liefdevolle ouer”.

As oortreders aanvoel die kind raak ongemaklik, sal hulle vir eers terugtrek en later weer probeer.

Hulle hou egter aan probeer totdat seksuele misbruik moontlik raak.

Sielkundige grooming

Die sielkundige aspek raak die kind en die gesin. Oortreders knoop eerstens ’n verhouding met ’n ouer aan om toegang tot die kind te kry.

Oortreders bestee tyd saam met hul slagoffer, gee die kind aandag en probeer die kind spesiaal laat voel, gee oor dat die kind “verstaan” word. Oortreders word die kind se “vriend” – ’n vriend met mag en beheer oor die kind en wat intimideer, manipuleer en voorsê.

Die oortreder bou ’n diep band met die kind deur die gee van geskenke en geld vir lekkernye en kos wat hulle nie by die huis mag eet nie, sonder die ouers se toestemming. Vakansies of sporttoere ver van die ouerhuis af skep geleenthede om die kind alleen te kry. Geheimhouding word dikwels hierna van die kind geëis.

Sodra die kind lyk asof hy of sy wil onttrek, sal die oortreder op ’n dramatiese wyse te kenne gee dat hy verwerp en ongelukkig voel, wat die kind skuldig en verward laat.

Oortreders sal selfs dreig om gesinslede, troeteldiere of vriende seer te maak indien die kind dit sou waag om hierdie “spesiale verhouding” te staak.

Terselfdertyd is oortreders dikwels die ouers of ma se finansiële versorger wat “gelukkig moet wees dat die oortreder aandag aan die kind gee”. Ouers en enkelma’s laat dan onder druk toenemend alleentoegang toe. Dié taktiek verwar en isoleer die kind uiteindelik. Hulle voel dan verantwoordelik of medepligtig aan die verkragting.

’n Skuldgevoel is die hoofrede waarom kinders nie seksuele mishandeling aanmeld nie.

Omgewings-grooming

Oortreders skep ’n beheerde omgewing deur ’n beeld aan die gemeenskap voor te hou as ’n verantwoordelike en sorgsame burger. Gevolglik beland hulle dikwels in vertrouensposisies waar hulle ongemoniteerde toegang tot kinders kry, soos in die geval van ’n sportafrigter of kerk-jeugleier. As ’n vermoede of bewering na vore kom, wys volwassenes dit maklik af omdat hulle nie kan glo dat die oortreder ooit ’n kind sal skade aandoen nie. Sodoende stel die gemeenskap die oortreder in staat om ongestoord met sy dade voort te gaan.

Tekens om voor uit te kyk

  • ’n Volwassene wat altyd alleen saam met ’n kind wil wees, wat nie inmenging van ander volwassenes duld as hulle met die kind besig is nie, wat die geselskap van kinders bo volwassenes verkies en geleenthede skep om alleen saam met die kind te wees, is rooi ligte.
  • ’n Volwassene wat homself “per ongeluk” aan die kind ontbloot, die kind aanmoedig om dinge te doen wat die ouers nie toelaat nie, glo dat “reëls” nie op hulle van toepassing is nie en die kind oormatig aanraak, is nog waarskuwingstekens.
  • ’n Volwassene wat ’n groot mate van belangstelling in ’n kind se seksuele ontwikkeling toon, oormatige opmerkings oor die kind se ontwikkelende liggaam maak, ’n gebrek aan respek vir die kind se privaatheid en persoonlike grense het en wie se belangstelling in die kind as “te goed om waar te wees” voel, is nog rooi ligte.
  • ’n Volwassene wat dikwels seksuele grappies maak, seksuele taal voor die kind gebruik of die kind “per ongeluk” aan pornografie blootstel (op sigself geklassifiseer as kindermishandeling).
  • Deur grooming of onvanpaste gedrag aan te meld, kan ’n kind die sielkundige hel van kinderverkragting, wat al as “karaktermoord” beskryf is, gespaar word.

Bykomende bronne: Vuk’uzenzele, Safe Kids Thrive

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article