Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) pronk met “477 groeiposte”-aanstellings van onderwysers kort nadat 2 407 onderwysers se kontrakposte teen verlede jaar nie hernu is nie.

Die WKOD is genoodsaak om die meer as 2 000 onderwysers te laat gaan weens die nasionale regering se besluit om nie by die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms te hou nie.

David Maynier, die LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, het dit duidelik gestel geen permanent aangestelde onderwysers is deur die besnoeiing geraak nie.

Met die aankondiging van die groeiposte staan baie verward en vol vrae, want hoe kan die departement dan nou bekostig om 477 poste te finansier?

Maynier verduidelik in ’n verklaring dat hy in Desember in sy onderwys-aanpassingsbegroting vir die boekjaar 2024-’25 gesê het voorsiening moet gemaak moet word vir die nuwe skole en klaskamers om onderwysers te hê, en die departement moet alle beskikbare opsies vir die 2025-skooljaar oorweeg.

“Ek het gesê ons sal vir ons onderwysers veg, en ons gaan voort om dit te doen. Deur verdere begrotingsherprioritisering is ons in ’n posisie om tot 477 nuwe groeiposte aan skole met ’n aansienlike toename in leerdergetalle in 2025 beskikbaar te stel en personeel te voorsien vir die nuwe skole wat ons voltooi het.”

Volgens Maynier het hul departementshoof ’n brief in hierdie verband aan skole gestuur. Hy sê die toekenning van poste word gegrond op data wat in ’n opname gemaak is. Die opname sal die aantal nuwe leerders bevestig wat by skole aangemeld het om die plekke wat hulle aangebied is, in te neem.

“Hoewel dié besluit verdere implikasies vir ons begrotingstekort sal hê, is dit van kardinale belang dat ons nuwe en bestaande skole die hulpbronne het wat nodig is om bykomende leerders in 2025 te akkommodeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article