“Vandat ek kon onthou, wou ek nog altyd ’n juffrou of ’n skrywer word. My pa het my altyd ‘juffrou in die boeke’ genoem,” vertel die onderwyseres Gerrida van Niekerk.
Van Niekerk se neus was altyd in die boeke en sy het as kind gereeld skool-skool gespeel – dis hoe haar liefde vir onderwys ontwikkel het. Van Niekerk is tans ’n graad 1-onderwyseres by Pomario Privaatskool in Citrusdal en is al vyf jaar in die onderwys.
“As graad 1-juffrou wil ek kinders se eerste ontmoeting met die ‘groot skool’ vir hulle ’n positiewe ervaring maak en graag bydra tot die kinders in my klas se geluk,” sê Van Niekerk. Sy sê ná graad 1 moet haar leerders uitsien na die res van hul skoolloopbaan.
Sy lê klem daarop dat haar werk behels om graad 1-leerders holisties te ontwikkel en gereed te kry – nie net vir graad 2 nie, maar ook vir die wêreld buite die skool. “Ons leer lees, skryf en tel, maar ons leer ook van spanwerk, hoe om gaaf te wees, vriendskappe te bou en volgens ’n diep gewortelde waardestelsel te leef. Ek leer die meeste van die tyd baie meer by die leerders as hulle by my!”
Voordat sy in haar droomberoep begin het, het Van Niekerk in 2013 aan Hugenote Hoërskool in Wellington gematrikuleer. Sy het in 2014 by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Wellington begin studeer en in 2017 haar B Ed-grondslagfasegraad verwerf.
Sy sê die lekkerste deel van haar werk is wanneer ’n leerder ’n nuwe konsep vir die eerste keer snap. “Veral om te sien hoe mooi my graad 1’s leer lees en sinne skryf. Die vordering kan so goed waargeneem word en daar is regtig niks lekkerder as dit nie.” Sy sê ook dit is wonderlik om te sien hoe waardevol groepwerk is en hoe goed leerders by mekaar leer en mekaar ondersteun.
“Om gesonde verhoudings met die kinders in my klas te bou, is my heel belangrikste taak. Ek glo dat leer baie meer natuurlik plaasvind by kinders wat veilig en geborge voel. Die leerders in my klas weet hulle kan met enigiets na my toe kom. Ons deel in mekaar se vreugdes en smarte.”
Van Niekerk voel die onderwys is ’n baie bevredigende professie. “Dit is lekker om te sien hoe die leerders in jou klas of sportspan vorder en verbeter. Die hoeveelheid liefde wat die kinders elke dag vir ’n mens gee, is onmeetbaar.
“Dalk publiseer ek nog eendag ’n kinderboek en bewaarheid dan ook my skrywer-droom só.”





