Die glasies by vanjaar se Skink Swartland is behoorlik geskink terwyl alles en almal gesluk en geproe het.
Die tweede Skink Swartland het Saterdag (6 Mei) by die Laaiplek-hotel plaasgevind.
Jolene Janse van Rensburg, die bestuurder van die Swartland-wyn-en-olyfroete, sê vanjaar se fees was weer eens ’n reusesukses. “Die terugvoer wat ontvang is, was baie positief en ons het verskriklik baie komplimente vir die heerlike ontspanne, onpretensieuse atmosfeer, ongelooflike kos en natuurlik die wyne van die streek gekry,” vertel sy.
Wat die opbou tot die groot dag nog meer opwindend gemaak het, was vanjaar se heel eerste kos-en-wyn-aand wat Vrydag (5 Mei) by die Laaiplek-hotel aangebied is.
Die plaaslike kookboekskrywer Georgia East het die spyskaart vir die aand saamgestel en die Laaiplek-hotel het die kos voorberei. “Vyf uitsonderlike Weskus-disse is by ses wyne uit die Swartland gepas. Al die bykosse, soos die suurdeegbrood wat saam met die sop voorgesit is, kom uit die Weskus/Swartland-omgewing. Die aand was deel van die naweek se verrigtinge, maar is as ’n aparte geleentheid bemark. Ons het dit vir die eerste ronde intiem gehou.”
Omtrent 200 mense het Saterdag se geleentheid bygewoon. Janse van Rensburg sê die kombinasie van plaaslike musiektalent, goeie kos, gehaltewyne en die unieke Weskus-bestemming aan die oewer van die Bergrivier, waar vissersbote stadig op pad na die diepsee uitgevaar het, het die dag ’n absolute wenner gemaak. “Markus Bester en die Bester-gesin van die Laaiplek-hotel het ruim harte. Hul gasvryheid en watertandlekker-disse is onverbeterlik en het ’n groot bydrae tot die sukses van die geleentheid gelewer. Ons wil graag die Weskussers nooi om ons kelders te besoek en in die Swartland te kom kuier. Ons is immers op die drumpel van die Weskus en kan enige tyd by die ander wynstreke in die Kaap kers vashou.”
Deelnemende kelders het Pulpit Rock, Org de Rac, die Swartland-wynkelder, Leeuwenkuil, Marras, Kloovenburg, Allesverloren en ander ingesluit. Gaste het te kenne gegee hulle sien reeds uit na die volgende Skink Swartland-geleentheid.





