Waldimar Pelser, M-Net direkteur, het by die jaarlikse verkoop-samekoms van die MultiChoice-groep aangekondig dat kykNET (DStv-kanaal 144) die plaaslike regte vir ’n nuwe verwerking van die visueel skouspelagtige en oorspronklike realiteitskompetisieformaat The Bridge verkry het.

Pelser het verklap dat die verfilming van die reeks voltooi is by ’n plek in Suid-Afrika wat eers later onthul sal word. Die deelnemers is gekies uit avontuurlustige inskrywers wat vroeër vanjaar gevra is of hulle aan ’n opwindende nuwe realiteits-TV-kompetisie wil deelneem. Die plaaslike Afrikaanse weergawe van dié reeks is deur Red Pepper Pictures (Kwarantyn, Wie Word ’n Miljoenêr) vervaardig. Dit is die elfde lisensiëring van vervaardigingsregte wat vir hierdie internasionaal gewilde realiteitsprogram toegestaan is.

The Bridge bring ’n groep vreemdelinge byeen in ’n afgeleë, onherbergsame gebied waar hulle ’n epiese uitdaging moet voltooi wat hul fisieke krag, uithouvermoë en vindingrykheid tot die uiterste toets. Deelnemers moet saamwerk om ’n enorme brug na ’n eiland te bou om die kontantprys van R1 miljoen te wen. Slegs een deelnemer wen egter die prys en moet dan besluit of hy/sy die prysgeld wil deel of alleen daarmee wil wegloop.

Pelser vertel dat The Bridge nie net ’n program is nie, dit is ’n wêreldwye sensasie. “Ons is opgewonde om die plaaslike weergawe van hierdie gewilde franchise aan te bied deur die beste Suid-Afrikaanse talent in te span en ons pragtige landskappe ten toon te stel in ’n reeks wat kykers op die punt van hul stoel sal hou.”

Vroeër vanjaar het kykNET die publiek genooi om in te skryf vir dié reeks onder die skuilnaam Die Groot Avontuur. Voornemende deelnemers het glad nie geweet waarin hulle hul begewe nie. “Ons het die meeste inskrywings vir enige realiteitsprogram op kykNET tot dusver ontvang, wat ’n duidelike aanduiding gee van die groot aptyt wat ons kykers vir so ’n werklikheids-TV-avontuurreeks het,” voeg Pelser by.

Die inheemse weergawe van die reeks sal uit 11 episodes bestaan en van Donderdag 26 Oktober op kykNET uitgesaai word.

Die ooreenkoms is bemiddel deur Robin Pollok, Banijay Rights se vise-president van verkope in Afrika, die Midde-Ooste, Griekeland en Israel. The Bridge bied volgens Pollok ’n realiteitskompetisie in ’n asemrowende ligging en vol ongelooflike uitdagings waar baie op die spel is. “Dit is ’n konsep wat by gehore dwarsoor die wêreld gewild is. Ons is opgewonde om hierdie ongelooflike program na nuwe horisonne te sien reis en vir die eerste keer vervaardigingsregte aan kykNET toe te staan. Ons is seker Suid-Afrikaanse kykers sal die plaaslike weergawe fassinerend en baie opwindend vind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article