Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen.


Suid-Afrika beleef ’n toename in geweldsmisdaad en hierdie tendens word in die Wes-Kaap asook meer plaaslik, aan die Weskus, geëggo.

Volgens die nasionale misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van die huidige boekjaar (Oktober tot Desember 2022) het moord-, aanrandings- en roofvoorvalle toegeneem.

Bheki Cele, die minister van polisie, het gesê die statistieke skets nie ’n algeheel positiewe prentjie van die misdaadsituasie in Suid-Afrika nie.

By die onlangse vrystelling van die misdaadstatistieke vir die derde kwartaal het Cele gesê dat 7 555 moorde gedurende hierdie tydperk aangeteken is. Dit kom neer op ’n 10%-toename vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar.

Seksuele misdaad het ook met 9,6% toegeneem, van 14 188 tot 15 545. Verkragting het met 9,8% gestyg, seksuele aanranding met 4,1% en poging tot seksuele misdrywe het met 45,6% toegeneem.

Roof (sonder verswarende omstandighede) het met 21,2% gestyg, terwyl gewone aanranding met 12,0%, en aanranding met die doel om ernstig te beseer met 8,7% geklim het.

Roof met verswarende omstandighede het met 10,8% gestyg.

Daar is wel ook ’n paar ligpunte in die statistieke uitgebring, soos die effense afname in die aantal transitorooftogte en bankrooftogte.

Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, reken die provinsie se misdaadstatistieke is kommerwekkend. Dit is in lyn met wat op nasionale vlak in die derde kwartaal ervaar is.

Byna 1 200 mense is tussen Oktober 2022 en Desember 2022 in die Wes-Kaap vermoor.

Dit is ’n toename van 142 moorde in vergelyking met die derde kwartaal van die vorige boekjaar.

Allen het by die bekendstelling van die provinsiale misdaadstatistieke in Mfuleni ’n beroep op die polisie, regering en gemeenskappe gedoen om saam te werk om misdaad te bekamp.

“Ek glo aan die hele regeringsbenadering, maar dit is ’n donker prentjie. Maar ek weet ons het talle toegewyde polisiebeamptes en toegewyde amptenare binne die provinsiale regering, gemeenskapspolisiëring en buurtwagte.”

Allen het gesê hy is vol hoop dat die misdaadvoorkomingsmaatreëls wat ingestel is positiewe resultate sal oplewer.

Aan die Weskus rapporteer kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, weekliks die misdaad in die distrik se 26 polisiekantore aan Weslander.

Die toename in moord en geweldmisdaad in die distrik is opmerklik. Die koerant het in die derde kwartaal van 2022-’23 veral berig oor moorde tussen vriende in die middernagtelike ure, waar alkohol gewoonlik betrokke is; die koelbloedige sluipmoorde waarby vuurwapens betrokke is en bende-aktiwiteit dikwels vermoed word; asook geslagsgebaseerde moorde waar ’n eggenoot of lewensmaat die ander eggenoot oor ’n tydperk mishandel en uiteindelik vermoor.

Sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van Darling-polisie, sê ook die geweld in Darling is ’n reuseprobleem. Aanrandings en gewelddadige bakleiery vier hoogty.

“Dis asof die duiwel in Darling los is, ten spyte van vele gemeenskapsinisiatiewe wat van stapel gestuur word om die misdaad hok te slaan,” het hy verduidelik.

Maar Filander kies om aan hoop vas te hou en nooi sy gemeenskap uit om teen die euwels van misdaad in die samelewing saam te staan.

Daar is steeds talle goeie polisiebeamptes wat met passie in hul gemeenskap dien, sowel as goedhartige vrywilligers en mense wat bereid is om in hul buurtwagte te dien, reken Filander. Hy sê ’n goeie voorbeeld van ’n effektiewe gemeenskapspolisiërings­inisiatief is die Community in Blue wat in Februarie in Darling van stapel gestuur is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article