’n Videogreep waarin ’n 15-jarige leerder ’n 19-jarige leerder van agter af oorval en aanrand.Foto: Facebook


Twee voorvalle van geweld by twee Weskus-skole het weer eens die kollig laat val op die soort konflik wat al meer ná die grendeltyd op skoolterreine landwyd die kop uitsteek.

In die eerste voorval by die Hoërskool Vredenburg is ’n niksvermoedende 19-jarige matrikulant verlede Dinsdag 23 Mei op die skoolterrein van agter bekruip en aangerand. Sy neus is gebreek en hy het verskeie kneusplekke opgedoen. Sy 15-jarige aanvaller en waarskynlik ook ’n ander leerder wat ’n veelbesproke video van die aanval gemaak het, staar nou moontlik tug-aksie by die skool in die gesig asook ’n misdaadrekord.

Die video van die aanval gedurende pouse het verlede week soos ’n veldbrand op sosiale media deur die Weskus en die land versprei.

Op die video neem die videonemer staanplek in met sy foon en begin die video opneem. Hierop gaan staan sy vriend agter die niksvermoedende slagoffer, wat rustig sy kos sit en eet en na musiek op oorfone luister.

Die aanvaller kyk gou eers om om hom te vergewis dat die videonemer op sy plek is voordat hy die slagoffer van agter nader en hom onverwags ’n harde klap teen die agterkop gee.

’n Deel van die slagoffer se oorfone spat met die slag van dié klap eenkant toe. Die tweede hou is met die vuis agter op die nek. Met die slagoffer wat probeer regop kom, reën die vuishoue teen sy kop – een daarvan op sy oor. ’n Laaste klap stuur die slagoffer grond toe, en ná ’n laaste vuishou stap die aanvaller doodluiters weg.

Dié video het geweldige reaksie op Facebook uitgelok. Mense van oor die land heen het met geweld teen die aanvaller en selfs sy ouers gedreig.

Die vloekwoorde, kru taal en woede in die sowat 2 000 kommentare was oorweldigend. Teen die tyd dat die video verwyder is, het meer as 3 000 mense dit al gedeel.

Dr. Bernard van Nieuwenhuyzen, voorsitter van die beheerliggaam van die Hoërskool Vredenburg, sê dit is tekenend van frustrasies en ’n kultuur om eie reg te gebruik. “Wat in die gemeenskap aangaan, manifesteer op die skoolterrein.”

Hy sê dissipline by skole het ook weens die grendeltyd en die gepaardgaande vryhede wat leerders by hul huise geniet het, ’n knou gekry. Met hul terugkeer na skole het hulle aanvanklik in kleiner groepe skoolgegaan, met meer ruimte vir elke leerder.

Skole – Hoërskool Vredenburg inkluis – ervaar dat leerders met die terugkeer na normale getalle in klaskamers teen die gewone skoolroetine en dissipline skop. “Daardie ruimte wat hulle gehad het met minder leerders per klas, is nou weggevat. Van die ouers sukkel ook as gevolg van die grendeltyd om alles finansieel by te bring. Al hierdie frustrasies spoel oor na die leerders, en hulle het nie die vermoë om dit te hanteer nie.”

Die skool is daarvan beskuldig dat hy die voorval “onder die mat vee”, maar Van Nieuwenhuyzen verseker dat hulle enige oortreding van die gedragskode as ernstig beskou, maar sê die skool moet terselfdertyd by die gedragskode se reëls en regulasies en die Skolewet hou. Dit sluit in dat die betrokke partye vyf dae kennis gegee moet word voordat ’n verhoor kan plaasvind, en die regte van al die partye moet in ag geneem word.

Van Nieuwenhuyzen benadruk die geweldsvoorvalle moet benader word op ’n manier waaruit geleer en verbeter kan word. “Skole het ’n verpligting om ’n positiewe leerervaring vir leerders te bied, want hulle is die gemeenskap van die toekoms.”V Vervolg op bl 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article