’n Toneel wat aan ’n Hollywood-aksiefliek herinner, kompleet met ’n skietery, ’n kaping en ’n jaagtog, het Donderdagoggend 8 Julie in die middedorp van Vredenburg, asook Louwville ontvou.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het die polisie die oggend van die voorval omstreeks 08:30 die nuus ontvang dat gewapende rowers die Shoprite-winkel langs die ou North Western-hotel (die rooi hotel) in Hoofstraat geteiken het.
Daar is beweer dat vyf rowers, twee gewapen met vuurwapens, die winkel binnegegaan het, terwyl vier ander rowers buite gewag het. Helfrich sê die rowers het die winkelbestuurder en ’n veiligheidswag in ’n vertrek binne die winkel aangehou en geld geëis. ’n Veiligheidswag buite Shoprite het agterdogtig geraak en die paniekknoppie gedruk.
Binne minute het die plaaslike honde-eenheid en die Vredenburg-Vispol en -speurdiens op die toneel aangekom. Die verdagtes het op die polisielede losgebrand, waarna die polisie op die rowers geskiet het. Die rowers het volgens die polisie met R300 000 en nuwe selfone van die toneel gevlug. Niemand is beseer toe die skote afgevuur is nie, maar polisievoertuie en privaat voertuie is in die proses beskadig. Die polisie het die rowers, wat in die rigting van Louwville gevlug het, haastig gevolg.
By die U-save-winkel in Louwville het twee van die verdagtes met ’n bejaarde man se Toyota Camry weggejaag nadat die rowers hom met ’n vuurwapen gedreig het. Die verdagtes het in die rigting van Steve Tshwete gevlug, waar die voertuig verlate by die treinspoor gevind is. Een vuurwapen is op die hoek van Velddrifweg en Skoolstraat gevind en die ander een by die toerismekantoor in Hoofstraat. Daarna is inligting ontvang dat die verdagtes in Sinkstraat, Ongegund in Vredenburg, wegkruip.
Die polisie het huise in die straat deursoek. Drie van die vermeende nege rowers is in een huis en nog drie rowers in ’n ander huis in dieselfde straat gevind, waar die geld en selfone en nog drie wapens ook teruggekry is. Die ander vermeende rowers is nog soek. Kol. Ntombikayise Matyolo, bevelvoerder van Vredenburg-polisie, het die betrokke polisielede geloof vir hul vinnige optrede wat gelei het tot die vastrek van die verdagtes net ure ná die gewapende roof.


