Van die artikels wat by die gewapende rowers gekry is.Foto: SAPD


Vier gewapende rowers is Saterdag 8 Februarie in Witteklip, Vredenburg, in hegtenis geneem nadat ’n winkel in Nackerdienstraat van geld, ’n selfoon en sigarette beroof is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die gesamentlike waarde nagenoeg R8 300.

Die winkeleienaar het omstreeks 14:20 van Kaapstad af teruggekeer en met sy terugkoms sewe mans gesien wat besig was om sy winkel se veiligheidsdeur oop te breek.

Hy het probeer om hulle te verjaag, maar hulle het ’n vuurwapen op hom gerig, waarna hy weggery het.

Vier rowers het daarin geslaag om wel die veiligheidsdeur oop te dwing sodat hul drie makkers, wat met vuurwapens gewapen was, die geld en ander produkte kon steel.

Omstanders het speurders van die Vredenburg-polisie, wat enkele minute daarna verby die winkel gery het, oor die rooftog ingelig.

’n 34-jarige man was in die winkel toe die gewapende rowers ingebreek het. Hulle het hom met die vuurwapen gedreig voordat hulle met hul buit gevlug het.

Helfrich het gesê die speurders het onmiddellik na die verdagtes begin soek.

Vier van die verdagtes is met behulp van die Vredenburg-honde-eenheid en die plaaslike blitspatrollie aangekeer met die vermeende gesteelde goedere na bewering nog by hulle.

Aviwe Ndyiki (30), Luyolo Mabongo (38), Zuko Sipho (38) en Simnikiwe Ntaka (28) het Maandag (10 Februarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die polisiebeamptes het ook op twee vuurwapens en twee gaspistole beslag gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article