Die lewe van 10 mense het verlede Woensdagoggend (6 November) in ’n oogwink verander.
Weslander het verlede week kortliks berig oor die botsing waarin nege mense, van wie twee kritiek, beseer is toe ’n bakkie en ’n geldwa gebots het.
Die eienaar van die betrokke bakkie, Tillie van Zyl van Vredenburg, sê sy bekommer haar nie net oor die welstand en gesondheid van haar werknemers wat in die botsing beseer is nie, maar ook dat sy en haar werkers nou sonder ’n inkomste sit.
Twee van die beseerde passasiers is bestendig en sterk in die hospitaal aan.
Van Zyl het ook gedeel dat die bestuurder aan ’n ventilator gekoppel is en dat hy sy linkerarm verloor het.
Van Zyl het aan Weslander vertel dat die nege insittendes onderweg was om pamflette in Velddrif af te lewer toe die botsing gebeur het. Ná die afsterwe van haar man, wat as sub-kontrakteur by On the Dot gewerk en pamflette afgelewer het, het sy die werk oorgeneem om kos op die tafel te sit.
Die bakkie is in die voorval verwoes, wat Van Zyl nie in ’n posisie laat om verder as sub-kontrakteur te werk nie. “Die werkers is soos familie vir my en baie stap al langer as 10 jaar ’n pad saam met ons. Ek wil hulle graag weer ’n salaris kan gee en aan die werk kom, maar sonder ’n voertuig kan ek nie.”
Die afgelope vier maande was nie maklik vir Van Zyl nie. Sy het in Augustus ’n beroerte gehad, in September haar man aan die dood afgestaan en twee maande later moet sy dié skok ook trotseer.
“Ek is baie hartseer oor wat gebeur het met almal in die bakkie, veral dié wat kritiek is, en neem niemand kwalik nie. Ek wens hulle ’n spoedige herstel toe.” Van Zyl sê as sy weer vervoer het, kan sy voortgaan met die werk en glo ook so kan sy dié help wat in die botsing was.





